Central SA
Wildtuin-werknemer wen hofstryd ná seun se dood in luiperdaanval─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:54 Fri, 26 Sep 2025

’n Werknemer van die Krugerwildtuin, wie se seuntjie (2) in 2019 in ’n luiperdaanval gesterf het, het ’n regsoorwinning behaal nadat hy met ’n siviele eis teen sy werkgewer voortgegaan het.
Die hooggeregshof in Mpumalanga, met waarnemende regter Zodwa Gumede as voorsitter, het ’n spesiale pleidooi van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke) van die hand gewys. Daar is beslis dat die werknemer, wat om privaatheidsredes slegs deur sy voorletters geïdentifiseer word, sy eis vir skadevergoeding mag voortsit.
Gumede het ook ’n hofbevel uitgereik wat die publikasie van die familie se name verbied. Luidens ’n verklaring het die voorval op 5 Junie 2019 in die Malalane-personeeldorp gebeur, waar die pa (35), gedurende die week gewoon het.
Foto ter illustrasie: www.matriarchafrica.com
Sy lewensmaat en hul seun het hom gereeld naweke besoek. Op die aand van die voorval was die gesin om ’n vuur bymekaar toe die kleuter begin ronddwaal.
Volgens hofdokumente was die pa in die huis toe hy skielik ’n geskree hoor.
Hy het buitentoe gehardloop en ’n luiperd sien vlug met sy seun in sy kake. Die roofdier het probeer om oor ’n 2 m hoë heining te spring, maar het vasgesit en die ernstig beseerde kind laat val.
Sterf in pa se arms
Hulle met die jong slagoffer na die Shongwe-hospitaal gehaas, maar het op pad daarheen in sy pa se arms gesterf. Veldwagters, onder wie Albert Smith, het onmiddellik ’n soektog van stapel gestuur.
Twee luiperdwyfies is geskiet. ’n Nadoodse ondersoek het later bevestig dat een van hulle verantwoordelik was vir die aanval.
Maande later het die familie ’n siviele eis teen SANParks ingedien vir begrafniskoste en sielkundige trauma. Sanparke het die eis teengestaan en aangevoer dat artikel 35(1) van die wet op vergoeding vir beroepsbeserings en -siektes werknemers verbied om hul werkgewer te dagvaar.
LEES OOK: Hernoeming van Krugerwildtuin sal slag vir toerisme-ekonomie wees
Gumede het egter die pleit ongeldig bevind, wat die weg gebaan het vir die voortsetting van die regsgeding.
Volgens JP Louw, Sanparke-woordvoerder, is hulle as ’n staatsentiteit daartoe verbind om te voldoen aan die bevindinge van howe. “Daarbenewens bestudeer ons ook die hof se uitspraak vir ’n meer diepgaande begrip van die bevindinge soos uiteengesit deur waarnemende regter Zodwa Gumede.”
Louw het bygevoeg dat Sanparke nie verder kommentaar sal lewer nie weens die sensitiwiteit van die saak en uit respek vir die slagoffertjie se naasbestaandes.