Central SA
Vereniging vir mense met gestremdhede hou unieke optredes in Bloemfontein─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:17 Sun, 28 Sep 2025

Die Vereniging vir mense met gestremdhede (APD) in die Vrystaat vier sy 86 -jarige bestaan met unieke optredes en nuwe leierskap.
“Hierdie byeenkoms sal nie net terugkyk op die hoogtepunte van 2024 en 2025 nie. Dit sal ook buitengewone prestasies ten toon stel en die begin van ’n nuwe era van leierskap aandui,” sê Therina Wentzel van APD.
Die geleentheid word Maandag (30/9) om 16:00 by die PwC-kantoor in Bloemfontein gehou. Dit sal die organisasie se direksie, bestuur, vennote en gemeenskapsondersteuners verenig in die viering van veerkragtigheid en vooruitgang.
“Dit gaan ’n baie spesiale middag wees waar ons die krag en briljantheid van persone met gestremdhede vier.” Die program sluit ’n opvoering in deur DJ Kloop (Kwezi Duma), 'n inwoner van Jean Webber Home wat met ernstige gestremdhede leef.
DJ Kloop (Kwezi Duma). Foto verskaf
Hy gebruik sy funksionele toon en skep musiek op ’n klawerbord wat op die vloer geplaas word, terwyl hy die monitor op ’n tafel volg.
“Kwezi se asemrowende musiek bewys niks kan kreatiwiteit en passie stilmaak nie.” Die Kopano Workshop Gumboot Dance Group sal ook optree.
Wentzel sê dié groep herinner ons intellektuele en leergestremdhede kan nie in die pad van uitnemendheid staan nie.
Nuwe raad
As deel van die organisasie se jaarlikse algemene vergadering sal die nuwe APD FS-raad vir die volgende drie jaar verkies word.
Andrew Hofmeyr, nasionale gestremdheid 20-projekleier, is benoem as voorsitter. “Andrew, wat self ’n persoon met ’n gestremdheid is, was betrokke by Jean Webber en APD FS. Ons is verheug dat hy die benoeming aanvaar het.”
Andrew Hofmeyr. Foto verskaf
Hofmeyr sal nou saamwerk met Nthabiseng Molongoana, provinsiale direkteur, aan die APD FS Vrystaat-ontwikkelingsplan vir die volgende drie jaar.
“APD FS werk al die afgelope 86 jaar in vennootskap saam met die Bloemfontein- en Vrystaatgemeenskap om ’n impak op die lewe van persone met gestremdhede te verseker.”
Daar sal ook ‘n paar verrassings vir deelnemers wees om te verseker die viering sal onvergeetlik en inspirend wees.
OFM Nuus/Charne van Der Merwe dg