On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Hartswater: Tegniese probleme kelder glo goedkeuring vir tender

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:07 Sun, 28 Sep 2025

Hartswater: Tegniese probleme kelder glo goedkeuring vir tender  | News Article
Rickus Te Baerts, Estelle Davies, Theo Joubert en Wilhelm Reichert. Foto verskaf

Inwoners van Hartswater in die Noord-Kaap is in die duister oor waarom ’n tender vir hul afvalwaterbehandelingsaanleg nie goedgekeur is nie.

Die DA vra vir dringende versekering vertragings in die projek sal nie tot noodverkryging lei nie, sê Michael Kaars, raadslid. ’n Praktyk wat ’n kommerwekkende tendens in die Phokwane-munisipaliteit geword het.

Hy sê ’n tender van R33 miljoen is geadverteer, maar later gekanselleer weens sogenaamde tegniese probleme. Dit is sedertdien weer geadverteer. 

“Die projek word befonds deur die Waterdienste-infrastruktuurtoelaag (WSIG), wat beteken die munisipaliteit loop die risiko om die fondse terug te betaal as dit nie betyds bestee word nie.” 

Inwoners is in die duister oor die tender. Foto verskaf

Die VF Plus is ook bekommerd oor deursigtigheid en verantwoordbaarheid. 

Rickus Te Baerts, raadslid, het video’s van die plaaslike waterwerke aan die gemeenskap uitgereik as deel van sy toesighoudende rol wat die belangrikheid van toegang tot skoon water beklemtoon.

’n VF Plus-afvaardiging bestaande uit Te Baerts, Theo Joubert, provinsiale bestuurder, Wilhelm Reichert, en Estelle Davies, distriksraadslid, het die suiweringsaanlegte in Jan Kempdorp en Hartswater besoek. 

Toegang geweier

“Tot ons groot teleurstelling is ons toegang tot beide aanlegte geweier. Selfs ons wetgewer, Theo Joubert, is deur sekuriteit geblokkeer wat op instruksies van die munisipaliteit opgetree het,” sê Davies. 

“Dit is onaanvaarbaar en skend nie net die toesighoudende rol van die wetgewer nie, maar ook die beginsels van deursigtigheid en verantwoordbaarheid. 

“Ons sal die nodige stappe doen om te verseker hierdie saak word opgevolg en dat die gemeenskap van Hartswater en Jan Kempdorp die waarheid oor hul waterwerke leer.”

Die afvaardiging het watermonsters van die dorpe geneem om onafhanklik in Kimberley getoets te word.

Misbruik van noodverkryging

Kaars sê die DA is al lank bekommerd oor die misbruik van noodverkryging om behoorlike prosesse te omseil. “Ons sal vrae op Dinsdag se raadsvergadering opper oor die heradvertering van die tender en duidelikheid eis oor hierdie sogenaamde tegniese kwessies. 

“Ons hoop ook om ons Julie-mosie ter tafel te lê wat versoek vir verkrygingshervormings, insluitend streng beperkings op noodverkryging.”

Hy sê behoorlike beplanning is noodsaaklik vir infrastruktuurprojekte van miljoene rande soos die opknapping van Hartswater se waterbehandelingsaanleg van R37 miljoen wat deur die munisipale infrastruktuurtoelaag befonds word.

“Swak beplanning regverdig nie onnodige noodverkryging nie. Inwoners verdien ware dienslewering van ’n korrupsievrye munisipaliteit – nie dienste wat deur die agterdeur gestoot word nie.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.