Central SA
Polisie soek drie verdagtes ná Bloemspruit-man agter stuur geskiet is─── ZENANDE MPAME 09:33 Mon, 29 Sep 2025

Die polisie is op soek na drie verdagtes, wat betrokke was by die moord op ’n man (51) van Grassland in Bloemspruit wat met skietwonde in sy agterkop agter die stuurwiel van ‘n huurmotor aangetref is.
Beamptes het Sondag vroegoggend (28/9) op ’n skietvoorval in die Freedom Square-gebied gereageer. Ooggetuies beweer die slagoffer was in die geselskap van die verdagtes toe skote afgevuur is.
Blykbaar is die man omstreeks 04:00 geskiet terwyl hy in ’n wit Toyota Vitz gesit het. Toe die polisie op die toneel aankom, het hulle die liggaam van die slagoffer agter die stuurwiel aangetref met skietwonde aan die agterkant van sy kop. Die man is na ’n plaaslike hospitaal gehaas, waar hy dood verklaar is.
“Drie verdagtes – een geklee in swart klere met ’n klapmus, die ander in ’n grys of wit baadjie, en die derde een in ’n bruin baadjie – het na George Lubbestraat gestap nadat hulle die gruwelike misdaadgepleeg het,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Misdaadtoneelkenners het twee doppies op die toneel opgetel. Die voertuig is getoets. Dit behoort aan ’n motorverhuringsmaatskappy in Kempton Park.”
Die polisie vra enigeen met inligting wat in die ondersoek kan help om lt.kol. Sias Smit te kontak by 063 692 1196, of Stop Misdaad by 0860010111.
Intussen vra die polisie ook mense se hulp om ’n liggaam uit te ken wat op Mangaung se berugte Suidelike stortingsterrein naby die Suidpark-begraafplaas in Bloemfontein gevind is.
Die polisie is Dinsdag (23/9) na die toneel ontbied nadat ’n verbyganger op die ontbinde liggaam van ’n vrou in ’n bousel op die stortingsterrein afgekom het.
“Die oorledene is glo op die grond aangetref, geklee in groen en wit pajamabroek en ’n swart baadjie,” sê Covane. “Die liggaam was reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding toe beamptes op die toneel aangekom het.
“Weens die toestand van die liggaam is die oorsaak van die vrou se dood in hierdie stadium onbekend. ’n Geregtelike doodsondersoek is by die Kagisanong-polisiekantoor geopen.”
Intussen doen die polisie steeds ’n beroep op die publiek om te help met die identifikasie van ’n liggaam wat verlede Maandag (22/9) deur ’n munisipale werker by die Bloemspruit-rioolsuiweringsaanleg gevind is.