Central SA
Lenteweer wink ná goeie reënnaweek─── 14:50 Mon, 29 Sep 2025

Inwoners oor groot dele van Sentraal-Suid-Afrika het die afgelope naweek ’n nuwe huppel in hul stap gekry ná wydverspreide reën wat die droë toestande ná die winter verlig het. Die neerslae wek nuwe hoop dat ’n goeie reënseisoen voorlê.
Volgens daaglikse bulletins van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het daar tussen 25 en 29 September verskeie donderstorms en buie oor die binneland voorgekom. In baie gebiede was die reënval bo die langtermyn-gemiddeld.
Die Vrystaat het plek-plek goeie reën gekry, met meer as 40 mm wat in Sasolburg en dele van Bloemfontein aangeteken is. Ook Bethlehem, Frankfort en ander dele van die Oos-Vrystaat het heelwat reën ontvang, terwyl streke in die Suid-Vrystaat nie agterweë gebly het nie.
Nadine Meyntjes het hierdie weerligstraal in Sasolburg vasgevang. Foto: Reënval in SA/Facebook
In Noordwes is van die hoogste reënval van die binneland aangemeld. In Lichtenburg is 31 mm op 28, sowel as 29 September gemeet – byna 80% bo die langtermyn-gemiddeld.
Potchefstroom, Klerksdorp, Rustenburg, Vryburg en Bloemhof het ook redelike goeie neerslae gehad.
Die Noord-Kaap het grotendeels droog gebly, hoewel plekke soos Prieska (11 mm) en Douglas (6 mm) darem ’n bietjie nattigheid beleef het.
Lenteweer lê voor
Suid-Gauteng, insluitend Johannesburg en Pretoria, het beduidende reën gekry, met totale neerslae wat 50% tot 80% bo die langtermyn-gemiddeld was. By die Oliver Tambo-lughawe is 50 mm aangeteken, 40 mm in Springs en 20 mm in Vereeniging.
Middagstorms het op sommige plekke tot oorstromings gelei, veral in die suidelike voorstede.
Vir die week wat voorlê, word oorwegend droë en matig warm lenteweerstoestande in Sentraal-Suid-Afrika voorspel. Volgens AccuWeather is die kans op verdere reën laag en is net enkele geïsoleerde buie moontlik in die Oos-Vrystaat teen die naweek en vroeg volgende week.
Santa Human het die foto geneem van die weer wat opsteek by Rouxville. Foto: Reënval in SA/Facebook
In die hoërliggende dele van die Vrystaat en Noordwes word maksimum temperature van 20 tot 29 °C verwag. In die Noord-Kaap behoort dit warmer te wees, met tussen 26 en 29 °C.
Geen groot weerwaarskuwings is uitgereik nie, maar binnelandse inwoners word aangeraai om middagdonderstorms dop te hou, veral waar hitte en vog opbou.
Droogte steeds bedreiging
Intussen bly groot dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap en grensdistrikte van Noordwes onder druk weens aanhoudende droogte. Volgens meteoroloë en die departement van water en sanitasie se jongste monitering toon die Niwis-portaal dat verskeie streke steeds ver onder hul seisoenale reënval is.
Die Karoo en Weskus in die Wes-Kaap bly hard getref, terwyl die droogte in die Noord-Kaap voortduur. In Noordwes is sommige distrikte steeds as matig droog geklassifiseer, veral dié wat aan die Noord-Kaap grens.
Ook die sentrale en westelike Vrystaat ervaar plek-plek beperkte reën en swak grondvog. Meteoroloë waarsku hoewel La Niña en Indiese Oseaan-verwarming swaar reën na sekere dele gebring het, die westelike streke moontlik met ’n langdurige droogte kan worstel.
OFM Nuus mvh