On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

R1,2 miljoen op die spel in Kimberley se Big Hole Marathon

───   REFILWE BEKANE 09:00 Tue, 30 Sep 2025

R1,2 miljoen op die spel in Kimberley se Big Hole Marathon | News Article
Verskillende belanghebbendes was teenwoordig by die bekendstelling van Kimberley se Diamond and Dorings Marathon. Foto: Refilwe Bekane

Die Noord-Kaapse provinsiale regering, in samewerking met Griekwaland-Wes se atletiekfederasie, sien uit na die eerste aflewering van die Diamond and Dorings Kimberley Big Hole Marathon.

Die geleentheid op 25 November wil Kimberley se roemryke geskiedenis vier – van sy diamantrykdom tot sy bevrydingserfenis – terwyl dit ook ’n kragtige gees van gemeenskap en uithouvermoë uitbeeld. Die mediabekendstelling is Maandag (29/9) bygewoon deur ’n rits vooraanstaande figure en gelei deur dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap.

Saul het sleutelaankondigings oor die wedloop se doelwitte en die verwagte voordele vir streekstoerisme en ekonomiese ontwikkeling gemaak. “Met pyn kom grootsheid,” sê Saul en beklemtoon sy eie ervarings en dié van ander leiers.

Dr. Zamani Saul gedurende sy toespraak. Foto: Refilwe Bekane

Thato Sethlolo, die wedloopdirekteur, het die tegniese aspekte van die marathon uitgelig. Die byeenkoms bestaan uit vier afstande: 5 km, 10 km, 21 km en die volle 42 km – wat dit toeganklik maak vir wêreldklasatlete én plaaslike langasems.

Die totale prysgeld beloop R1,2 miljoen. Sethlolo bevestig dat die 42 km-wenners R200 000 elk ontvang, die 21 km-wenners R50 000 en dat sowat R5 000 op die spel is vir die 5 km-wedloop. 

“Ons gee ons atlete ’n kans om te kwalifiseer,” sê Sethlolo en benadruk dat elke deelnemer ’n gelyke geleentheid kry om mee te ding en te wen.

Deelname uit alle provinsies

Volgens James Moloi, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA) sal die gebeurtenis wye ondersteuning van nasionale liggame geniet. Hy het belowe om ander provinsies aan te moedig om Kimberley se nuwe marathon te ondersteun. 


“Ek gaan alle provinsies dringend versoek om na Kimberley te kom – ons wil elke streek bevorder,” sê hy. Marathonlegendes soos Bruce Fordyce (nege maal Comrades-wenner) en die huidige kampioen en viervoudige Comrades-wenner, Tete Dijana, het die bekendstelling ook vereer met hul teenwoordigheid.

Saul het die belangrikheid van volharding in marathonwedlope beklemtoon. Die Diamond and Dorings Marathon beloof om ’n deurslaggewende gebeurtenis te wees wat sport, geskiedenis en gemeenskap in die hart van die Noord-Kaap saamsnoer.

OFM Nuus/Refilwe Bekane mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.