Central SA
Boedelsaak: Bloemfonteinse prokureur se saak geskrap ná g’n getuie opdaag─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:49 Tue, 30 Sep 2025

Die saak teen ’n Bloemfonteinse prokureur is van die rol geskrap nadat die staat versuim het om getuies te dagvaar om te getuig.
Elmari Vosloo (47) het Dinsdag (30/9) in die Bloemfonteinse streekhof verskyn op aanklag van die wanbestuur van ’n boedel ter waarde van ongeveer R6 miljoen tussen Januarie 2015 en Julie 2017.
Kapt. Qobi Elias Mohomane, ondersoekbeampte, het aan die hof gesê die klaer is bewus van die verhoordatum, maar was nie beskikbaar nie weens ander verpligtinge.
Toe Mohomane gevra is of enige getuies gedagvaar is, het hy erken niemand is gedagvaar nie.
Landdros Colin Nkosie het sy kommer oor die situasie uitgespreek en die belangrikheid van getuies in so ’n saak beklemtoon. Hy het die staat gelas om “sy huis in orde te kry” voordat hy die saak van die rol geskrap het.
Adv. Allen Simpson, Vosloo se regsverteenwoordiger, het die staat se versoek om uitstel teengestaan en die hof het in sy guns beslis. Ná die verrigtinge het Simpson bewyse in die dossier aan Mohomane uitgelig, wat volgens hom Vosloo se onskuld bevestig.
Mohomane het bevestig hy sal dit verder ondersoek.
“Die saak kan moontlik weer op die rol geplaas word, mits die staat sy huiswerk doen,” sê Simpson.
Hy het voorheen aan OFM Nuus gesê die R6 miljoen, wat uit die verkoop van eiendom (plase) by Lindley gekom het, is in Vosloo se praktyk se trustrekening betaal. “Sy het toe die geld in aangewese beleggingsrekeninge belê, soos vereis, voordat dit na die boedel versprei is.”
Volgens Simpson ontken Vosloo enige oortreding. Sy hou vol sy het geen geld verduister nie en hou vol die geld is in die korrekte trust- en beleggingsrekeninge.
Elmari Vosloo in die hof. Foto: Charne van der Merwe
“Die Raad vir Regspraktisyns het haar praktyk in 2017 oorgeneem en die beheer oor die trustrekening en alle gepaardgaande beleggings oorgeneem,” sê Simpson.
Die klaer beweer egter dat die geld in Vosloo se persoonlike bankrekening betaal is, pleks van in die vereiste trustrekening. Hierdie beweerde wangedrag het na bewering tot ’n finansiële verlies van ongeveer R3,4 miljoen vir die klaer gelei.
’n Dagvaarding is op 11 Junie aan Vosloo beteken.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs