On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Oudpolisieman van Vrystaat verander weer standpunt in ondervraging

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:24 Tue, 30 Sep 2025

Oudpolisieman van Vrystaat verander weer standpunt in ondervraging | News Article
Daniel en Anna Fourie buite die hofsaal. Foto: Charne van der Merwe

Die kruisondervraging sal Woensdag (1/10) hervat word van ’n voormalige polisieman en sy vrou wat aangekla word van intimidasie en crimen injuria.

Die jare lange saak van Daniel Jacobus en Anna Francina Fourie duur Woensdag voort in die Welkomse streekhof. Die aanklagte teen die egpaar spruit uit ’n langdurige vete met die broers Manny en José Jardim.

Daniel het Maandag (29/9) aan die hof gesê dat hy nie ’n foto van sy seun hof toe sal bring nie, soos voorheen deur die staat versoek is. Dié kind kan die onderliggende rede vir die beweerde misdade wees, meen adv. Allen Simpson, staatsaanklaer. 

Die staat blyk aan te voer dat die paartjie se beweerde optrede beïnvloed is deur hul oudste kind, wat na bewering verbind word met een van die mans wat aanklagte teen hulle ingedien het.

Welkom: Voormalige polisiebeampte ontken bewerings in verklaring  | News Article

Daniel en Anna Francina Fourie by die hof. Foto: Charne van der Merwe

In vorige kruisondervraging het Simpson vir Fourie gevra of sy herhaalde verwysings na een van die klaers as “Porra scum” en ’n “verkragter”, insluitend in graffiti, verbind kan word met vermoedens rakende die egpaar se oudste seun. 

Simpson wou ook weet of die dreigende boodskappe en graffiti moontlik verband hou met ’n voorval wat meer as 30 jaar gelede plaasgevind het.

Toe hy gevra is of hy die klaer ken, het Fourie getuig hy het hom een keer in 2013 ontmoet toe hy ’n vark by hom gekoop het, maar hy het sedertdien geen kontak met hom gehad nie.

Anna ontken sy ken klaer

Fourie het gesê hy en Anna het mekaar in 1998 op Senekal ontmoet. Anna was destyds nog op skool, en hy het as ’n polisieman op Bethlehem gewerk. Volgens Fourie het hy, nadat hy van die misdade beskuldig is, sy vrou gevra of sy een van die klaers ken. Anna het ontken dat sy die man ooit ontmoet het. In vroeëre verrigtinge het Manny egter onder eed getuig dat hy haar wel ken.

In 2021 het Simpson versoek dat Fourie ’n DNS-toets ondergaan om te bepaal of die egpaar se oudste seun biologies syne is. Fourie het destyds geweier. Op 15 Augustus het hy egter die hof meegedeel dat hy nie meer beswaar maak teen die toets nie.

Fourie het nou weer van standpunt verander. Toe Simpson hom in die hof oor die foto van sy kind uitgevra het, het Fourie gesê dat hy ná regsraadpleging aangeraai is om nie die foto te bring nie.


Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf

Simpson het die hof toe meegedeel dat Fourie ten tyde van kruisondervraging met sy regsverteenwoordiger, Sam Nkuna, gekonsulteer het.

Die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle agter graffiti is wat jare lank brûe, padtekens en mure regoor die Goudveld-streek ontsier het – na bewering gemik op die Jardims. Hulle staan ook tereg op aanklagte van poging tot moord nadat een van die broers se huise na bewering met ’n spykerbom aangeval is.

In Maandag se verrigtinge het Simpson vir Fourie herinner aan verskeie voorvalle waarby die Jardims betrokke was wat onaangenaam geëindig het.

Vrae oor lasbrief

In een so ’n voorval het Fourie na bewering vir José gebel en beweer dat hy na sy broer, Manny, soek weens ’n vermeende lasbrief wat in Ladybrand uitgereik is. Hy het ook beweer ’n kapt. Van Staden het hom opdrag gegee op meer oor die brief uit te vind.

Simpson het aan die hof gesê daar was nog nooit ’n Van Staden wat by die polisiekantoor gewerk het nie en dat die vermeende lasbrief vals was. Hy het beweer dat dit ’n vorm van intimidasie met die doel om vrees in te boesem.

“Jy het baie goed geweet dat geen lasbrief vir Manny uitgereik is nie,” het Simpson vir Daniel gesê.

Van die graffiti wat ter sprake is in die saak. Foto verskaf

Nog voorvalle deur die jare sluit in bewerings wat verband hou met die koop van varke, en die verkoop en moontlike diefstal van ’n bul. Irene de Fratas, die Jardims se suster, het ook beweer Fourie het vir haar die middelvinger gewys. Daar was glo ook ’n jaagtog in die strate van Welkom.

Simpson het Fourie gekonfronteer oor nege dreigende en persoonlike boodskappe wat aan drie lede van die Jardim-familie gestuur is.

Dieselfde boodskappe is ook aan Anna, die tweede beskuldigde, gestuur, blykbaar om haar die inhoud te wys nadat Fourie die familie gewaarsku het, aangesien sy na bewering ook betrokke was.

Die Jardims is in die graffiti geteiken. Foto verskaf

Simpson het verder gesê die nommer waarvandaan honderde ander dreigende boodskappe gestuur was, was gekoppel aan Fourie se toestel, wat hy as die huisfoon beskryf het.

Fourie het aan die hof gesê slegs hy en Anna het toegang tot daardie foon gehad – sy kinders kon dit nie gebruik nie.

Die kruisondervraging sal Woensdag voortduur weens die gebrek aan hoftyd nadat die hof Maandag tot 16:00 gesit het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.