On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde Brandfort-boer weer in hof op moordklag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:54 Fri, 03 Oct 2025

Bejaarde Brandfort-boer weer in hof op moordklag | News Article
Carl Christian Gutter (78) van Brandfort verskyn weer Vrydag in die plaaslike landdroshof.

Die Vrystaatse DOV moet nog reageer op die verdedigingspan se voorlegging namens ’n bejaarde Vrystaatse boer, wat van moord aangekla word.

Carl Christian Gutter (78) van Brandfort verskyn weer Vrydag (3/10) in die plaaslike landdroshof. Hy word vervolg nege jaar nadat hy na bewering vir Sonnyboy Segalo doodgeskiet het terwyl dié op sy plaas oortree het.

Gutter is op 21 Mei vanjaar in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die hof verskyn. Hy is borgtog van R2 000 toegestaan. 

Met sy volgende verskyning agt dae later het die verdediging ’n uitstel vir die vertoë versoek.

Berigte van plaasaanval

Die aanklag spruit uit ’n voorval op 29 Augustus 2016 op Gutter se plaas, Palmietfontein, in die distrik Brandfort. Die polisie is na die toneel ontbied ná berigte van ’n plaasaanval, het lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder, voorheen gesê.

“Met hul aankoms het hulle vier verdagtes teëgekom wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou is. Onder hulle was Segalo, wat met sy gesig na onder gevind is met ’n skietwond in sy rug.”

Twee vuurwapens is naby die toneel gevind en vir ballistiese ontleding gestuur. “Hoewel hy en sy medepligtiges aanvanklik van poging tot roof aangekla is, is die drie medebeskuldigdes vrygespreek.”

Lasbrief uitgereik

Segalo het later aan sy beserings beswyk, maar niemand is destyds op enige moordaanklagte in hegtenis geneem nie.

Die Brandfortse landdroshof se bevindinge in Maart ná ’n formele geregtelike doodsondersoek het uitgeloop op die uitreiking van ’n lasbrief vir Gutter se inhegtenisneming op aanklag van moord.

Adv. Allen Simpson tree vir Gutter op.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.