Central SA
Vertoë verwerp: Bejaarde Vrystaatse boer se moordverhoor uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:03 Fri, 03 Oct 2025

Die moordsaak van ’n bejaarde Vrystaatse boer is tot 10 Desember uitgestel sodat die verdedigingspan verdere vertoë aan die NDOV kan rig.
Carl Christian Gutter (78) van Brandfort word nege jaar later vervolg nadat hy na bewering vir Sonnyboy Segalo in Augustus 2016 op sy plaas, Palmietfontein, doodgeskiet het. Gutter het Donderdag weer vlugtig in die hof verskyn.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Allen Simpson, het voorheen vertoë ingedien waarin gevra is dat die saak teruggetrek word. Die staat het egter Donderdag bevestig dat die saak sal voortgaan en verskeie redes aangevoer.
Die voorleggings wat namens Gutter gemaak is, is oorweeg, maar as onvoldoende beskou om die oorspronklike besluit om te vervolg, wat op 6 Mei 2025 geneem is, om te keer.
Doodsondersoek se rol
Die besluit om vervolging in te stel, spruit voorts uit ’n formele geregtelike doodsondersoek wat gehou is. Die bevindings van die geregtelike doodsondersoek is deeglik oorweeg, saam met die beskikbare bewyse en die agtergrond van die saak, en dit het gelei tot die besluit om met vervolging voort te gaan.
Die vertoë namens Gutter is gevolglik verwerp, en die saak sal nou sy gewone verloop neem. Simpson sê vertoë gaan egter eers tot die NDOV gerig word.
Gutter is op 21 Mei in hegtenis geneem, het dieselfde dag in die hof verskyn en is borgtog van R2 000 toegestaan. By sy volgende verskyning agt dae later het die verdediging uitstel versoek om vertoë in te dien.
Volgens polisieverslae is beamptes op 29 Augustus 2016 na Gutter se plaas ontbied ná bewerings van ’n beweerde plaasaanval. Hulle het vier verdagtes aangetref wat deur plaaslike boere en plaaswerkers aangehou is.
Skietwond in rug
Onder hulle was Segalo, wat met sy gesig na onder met ’n skietwond in sy rug ontdek is, het lt.kol. Zweli Mohobeleli, Valke-woordvoerder, vroeër gesê. Twee vuurwapens is op die toneel gekonfiskeer en vir ballistiese analise gestuur.
Segalo en sy beweerde medepligtiges is aanvanklik aangekla van poging tot roof, maar die drie medebeskuldigdes is later vrygespreek. Segalo het later aan sy beserings beswyk.
In Maart vanjaar het ’n formele geregtelike doodsondersoek in die Brandfortse landdroshof gelei tot die uitreiking van ’n lasbrief vir Gutter se inhegtenisneming op ’n aanklag van moord.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.