Central SA
DOV beslis Potch-man moet vervolg word weens vriende se dood─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:21 Sat, 04 Oct 2025

Hoewel die vertoë afgewys is van ’n man van Potchefstroom wat teregstaan weens die moord op twee boesemvriende en besluit is dat hy wel vervolg sal word, gaan die NDOV nou genader word met verdere vertoë.
Gideon Borstlap (38) het Woensdag (1/10) in die Potchefstroomse streekhof verskyn op twee aanklagte van strafbare manslag. Hy is weer op waarskuwing vrygelaat, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder.
Dit is die agste keer dat die saak uitgestel word wat spruit uit die dood van Kobus Huyser (28) en Niel Grobler (19) ses jaar gelede in ’n motorbotsing in Potchefstroom.
Die twee vriende het op 15 Augustus 2019 omstreeks 19:00 saam gery toe Borstlap se voertuig na bewering met hulle s’n gebots het op die kruising van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat, naby die gholfbaan. Albei is op slag dood.
Kobus Huyser en Niel Grobler. Foto: Facebook
Borstlap se verdedigingspan het in ’n hofverskyning op 29 Mei bykomende inligting oor die saak aangevra. Hy is aanvanklik kort ná die ongeluk in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Die saak is egter in 2020 teruggetrek vir verdere ondersoek.
In 2022 het Grobler en Huyser se naasbestaandes AfriForum genader om hul frustrasie oor die vertragings en gebrek aan vordering uit te spreek. Andrew Leask, hoofondersoeker van AfriForum se private vervolgingseenheid, het bevestig dat hulle met die NVG in gesprek getree het.
“Ná besprekings is ooreengekom dat verdere ondersoek nodig was. Ons het aangebied om ’n kenner te verskaf om die ongelukstoneel te rekonstrueer. Die polisie het later hul eie kenners aangestel, wat ’n omvattende rekonstruksie voltooi het.
Ooggetuie na vore
“Die voltooide toneelrekonstruksieverslag is aan die DOV oorhandig,” het Leask gesê en bygevoeg dit het gelei tot die besluit om voort te gaan met Borstlap se vervolging.
Gunya het voorheen gesê dat aanklaers ná Borstlap se aanvanklike inhegtenisneming en die indiening van die dossier in die hof, kommer uitgespreek het omdat daar nie ’n onafhanklike ooggetuie was nie.
“Die saak is van die rol geskrap, en die polisie het deur die plaaslike media 'n beroep gedoen op ooggetuies om na vore te kom. “ ’n Nuwe ooggetuie het later ingestem om ’n verklaring af te lê, waarna die dossier teruggestuur is na die DOV, wat besluit het om die saak terug op die hofrol te plaas.”