Central SA
‘Nuwe voorstel vir grondhervorming kan verwoestend wees’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 07:40 Sun, 05 Oct 2025

Die VF Plus sê die regering se nuwe voorstel vir grondhervorming sal eiendomsregte, voedselsekerheid en die ekonomie benadeel.
Die omstrede grondwetlike wysiging is deur Mzwanele Manyi, MK-LP, voorgestel. Dit poog om alle verwysings na vergoeding vir grondonteiening te verwyder en die staat die enigste bewaarder van alle grond te maak.
Dit het aansienlike openbare aandag gelok, maar dien bloot as ’n afleiding, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP.
“Die werklike gevaar lê in die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling se wet op billike toegang tot grond wat stilweg agter die skerms voorberei word.”
Hy sê die voorgestelde wetsontwerp is daarop gemik om grondherverdeling te bespoedig deur die staat toe te laat om te bepaal wat ’n “billike” plaasgrootte in elke distrik uitmaak.
Onteien moontlik sonder vergoeding
“Enige eienaarskap wat daardie grootte oorskry kan as ‘surplus’ verklaar en onteien word, moontlik sonder vergoeding. Die departement het reeds twee keer vanjaar oor vordering aan die parlementêre portefeuljekomitee verslag gedoen met nog ’n inligtingsessie wat op 19 November verwag word.”
Boshoff waarsku hoewel die wetsontwerp nog nie aan die kabinet voorgelê of vir openbare kommentaar oopgestel is nie kan die implikasies daarvan verreikend wees.
“Dit word aangebied as ’n gebalanseerde of gematigde benadering, maar in werklikheid hou dit dieselfde rampspoedige bedreiging vir eiendomsregte, voedselsekerheid en beleggingsvertroue in.”
Regte van grondeienaars moet beskerm word
Hy sê die kwessie strek verder as die ekonomie. “Dit gaan oor simboliek om minderhede wat ’n beduidende ekonomiese rol speel ‘op hul plek’ te plaas. Dit gaan nie oor ontwikkeling nie; dit gaan oor politieke beheer.”
Die VF Plus hou vol hulle sal nie onkant betrap word nie en sal voortgaan om teen sulke wetgewing in die parlement en kabinet te veg om die regte van grondeienaars te beskerm en ekonomiese stabiliteit te verseker.
OFM Nuus dg