On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Toestand van Sassa-gebou in Parys is haglik

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:34 Tue, 07 Oct 2025

Toestand van Sassa-gebou in Parys is haglik | News Article
Die Sassa-gebou in Parys is vervalle. Foto: DA

Die Sassa-gebou in Parys het dringend herstelwerk nodig ter wille van die veiligheid en menswaardigheid van inwoners wat daarvan afhanklik is om hul maatskaplike toelaes daar te gaan haal.

Dié munisipale gebou is in ’n toestand van ernstige verval en bejaardes en ander kwesbare begunstigdes moet in haglike omstandighede toustaan. Van die plafonne en vensters is stukkend en die verf dop af wat dit onveilig en onaanskoulik maak vir diegene wat die saal maandeliks besoek.

Die DA in Parys het kommer uitgespreek oor die verslegtende toestand van die saal en die munisipaliteit versoek om onmiddellik in te gryp.

Die mure en deure is in ’n swak toestand. Foto: DA

“Die ANC-beheerde Ngwathe-munisipaliteit versuim om dit in stand te hou wat onnodige lyding vir inwoners veroorsaak. Bejaardes en kwesbare inwoners sukkel om die kleedkamers te gebruik en die toestand van die saal is eenvoudig onaanvaarbaar. 

“Ons gemeenskap verdien beter sorg en respek,” sê JP de Villiers, DA-raadslid.

Ná ’n inspeksie van die perseel op 1 Oktober het die DA formele briewe aan die munisipale bestuurder, die uitvoerende burgemeester en die direkteur van gemeenskapsdienste gestuur en dringende ingryping geëis.

Die toilette is vuil en stukkend. Foto: DA

De Villiers sê dit sluit in die herstel van plafonne en vensters, die oorverf van mure, die opknapping van die kleedkamers en die installering van opritte om toeganklikheid vir rolstoelgebruikers te verbeter.

Hy stel voor tydens die herstelwerk dat alternatiewe betaalpunte soos plaaslike kerke of die Forum-gebou gebruik word om te verseker Sassa-begunstigdes kry veiliger dienste.

Die Sassa-gebou in Parys is nie gebruikersvriendelik nie. Foto: DA

“Die menswaardigheid van ons gemeenskap moet eerste kom. Die DA sal voortgaan om te veg vir behoorlike instandhouding en ordentlike toestande vir almal wat van Sassa afhanklik is vir hul lewensonderhoud.” 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.