Central SA
Beleggingskema: Man se verhoor begin binnekort in Hartswater─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Fri, 10 Oct 2025

Die Noord-Kapenaar (30) wat beleggers uit miljoene rande bedrieg het se verhoor sal na verwagting Vrydag (10/10) begin.
Ruan Maritz het op 18 Julie in Hartswater se spesialishandelsmisdaadhof verskyn. Hy word van bedrog aangekla nadat hy na bewering beleggers uit R2 miljoen bedrieg het
“Maritz word daarvan beskuldig dat hy hom as ’n makelaar vir Quick Trade Investment and Forex Trading voorgedoen het. Hy het na bewering die klaers en ander potensiële beleggers geteiken,” sê kol. Tebogo Thebe, Valkewoordvoerder.
Na bewering het Maritz ’n beleggingsooreenkoms met die beleggers aangegaan. Hulle moes 50% van die totale beleggingsbedrag bydra dan sal Maritz die ander 50% bydra. Hy het egter nie sy kant van die ooreenkoms nagekom nie.
Maritz is op 25 Maart deur die Valke in hegtenis geneem en die volgende dag is borgtog van R50 000 aan hom toegestaan.
Ruan Maritz. Foto: SAPD
Intussen moet nog twee inwoners van die Noord-Kaap op 30 Oktober in die hof vir ernstige handelsmisdade in Kimberley verskyn nadat hul saak uitgestel is. f.
Roslyn Crossingham (72) en Martha Rapetsoa (49) het op 10 September in die Douglas-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met mynregtebedrog, het ao. Nomthandazo Mnisi, Valkewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.
Borgtog is met hul aanvanklike hofverskyning op R15 000 vir Crossingham en R800 vir Rapetsoa vasgestel.
Crossingham het op 9 Julie in die hof verskyn en is later as ’n tweede beskuldigde in die saak bygevoeg. Rapetsoa, 'n mededirekteur van Rowen Tree 60, het reeds op 19 Junie in die hof verskyn.
Roslyn Crossingham. Foto: SAPD
Rapetsoa word daarvan beskuldig dat sy ’n aansoek vir die hernuwing van prospekteerregte wat reeds deur die departement van minerale hulpbronne en energie verwerk is, teruggetrek het. Crossingham het op haar beurt na bewering ’n aparte aansoek wat in 2012 ingedien is, teruggetrek terwyl sy ook as mededirekteur van Rowen Tree 60 gedien het.
Ten spyte van die terugtrekkings het albei vroue en hul mededirekteure na bewering voortgegaan om die maatskappy saam met die nou ongeldige mynregte in 2015 vir R100 000 aan ’n sakeman te verkoop.
“Voordat die betaling gefinaliseer is, het Crossingham glo die maatskappy weer verkoop, hierdie keer aan die klaer, terwyl sy die terugtrekkingsbrief weggesteek het om dit te laat lyk asof die prospekteerregte steeds geldig was,” sê Mnisi.
Nog inhegtenisnemings kan volg
Omdat die klaer geglo het die regte is wettig, het hy R1,368 miljoen vir die maatskappy betaal. Mnisi sê R100 000 van daardie bedrag is na bewering in die persoonlike bankrekening van een van die direkteure betaal.
“Hierdie transaksie het uiteindelik daartoe gelei dat die klaer die volle R1,368 miljoen verloor het.” Mnisi het bevestig nog inhegtenisnemings in verband met die saak word verwag.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.