Central SA
Replika van Paul Kruger-standbeeld vind tuiste in Orania─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:36 Tue, 07 Oct 2025

Ná ’n historiese reis van tien dae deur Suid-Afrika het die replika van die Paul Kruger-standbeeld in Pretoria net betyds vir die 200ste herdenking van die oudpresident se geboorte ’n permanente tuiste in Orania gevind.
Die aankoms van die bronsstandbeeld Donderdag (2/10) in Orania word beskou as ’n simboliek van die aanbreek van ’n nuwe hoofstuk in Orania se voortgesette pogings om Afrikaner-erfenis te bewaar. Die standbeeld se aankoms baan die weg vir die groot vieringe op 10 Oktober, presies twee eeue sedert Kruger se geboorte.
“Die replika het op Erfenisdag (24 September) vanaf die Voortrekkermonument vertrek op die roete wat ingesluit het Kerkplein, Boekenhoutfontein, Rustenburg, Potchefstroom, Krugersdorp, Heidelberg, Vereeniging, Udolpho, Heilbron, Vegkop, Bloemfontein, Paardeberg en Kimberley,” sê Dawid Brand, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.
Inwoners van Orania het Donderdag van vroegoggend bymekaargekom geklee in oranje en wit, en die dorp se vlae gewapper.
Die replika van Paul Kruger se standbeeld. Foto: Facebook/Orania
Brand sê ongeveer ’n duisend mense het die strate volgestaan toe die vragmotor wat die standbeeld vervoer om 07:30 arriveer het. “ ’n Parade en marsorkes het die optog gelei wat bygedra het tot die atmosfeer van viering.”
Ongeveer 300 m van die nuwe voetstuk af is die standbeeld regop gelig, wat die simboliese einde van die reis aangedui het. Skoolkinders studente en gemeenskapslede het toegekyk terwyl die standbeeld versigtig geposisioneer is.
“Hierdie opkoms het getoon hoe sterk die simboliese waarde van Paul Kruger steeds is – nie net as ’n historiese figuur nie, maar as ’n simbool van standvastigheid, identiteit en kulturele selfbeskikking.”
Hy sê die standbeeld is ’n sigbare herinnering dat die Afrikanerkultuur en -erfenis aktief in Orania bewaar word.
Inwoners van Orania het vir musiek gesorg. Foto: Facebook/Orania
Cara Tomlinson, toerleier van die Krugerstandbeeldprojek en FAK-kultuurverteenwoordiger in die Noord-Kaap, sê die oomblik was baie emosioneel.
“Dit maak jou trots om Oom Paul op sy 6 m hoë voetstuk te sien staan, veilig tussen sy mense. Vir die toerlede was dit ’n gevoel van tuiskoms. Oom Paul het huis toe gekom.”
Die dag het ook ’n opvoering van “Kruger breek die pad oop”, deur NP van Wyk Louw, ingesluit, opgevoer deur die OKeR-teatergroep vir studente en gemeenskapslede.
Paul Kruger sou op 10 Oktober 200 jaar oud gewees het. Foto: Facebook/Orania
Die standbeeld is gefinansier deur AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand. Planne is reeds aan die gang om die omliggende gebied in ’n sentrum vir erfenis en toerisme te ontwikkel.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus dg