Central SA
Vrou se dood: Vrystater se saak eers van rol verwyder─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:47 Tue, 07 Oct 2025

Die saak teen ’n kunsmisagent van die Vrystaat, wat van moord op sy vrou aangekla word, is voorlopig van die hofrol geskrap.
Die saak waarin Johan Fourie (74) daarvan beskuldig word dat hy sy vrou, Hentie (58), vermoor het, is Vrydag (3/10) van die Senekal-landdroshof se rol verwyder vir verdere ondersoek en in afwagting op ’n ballistiese verslag, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder
Die saak is voorheen, op 25 Julie, tot 3 Oktober uitgestel weens dié uitstaande ballistiese verslag. Die saak is vantevore drie keer uitgestel omdat die saakdossier nie by die Bethlehem-streekhof ingedien is nie.
Aanvanklik is berig dat Hentie haar eie lewe in hul slaapkamer geneem het. Haar vuurwapen is langs haar lewelose liggaam aangetref. ’n Nadoodse ondersoek het egter twyfel gewerp op hierdie weergawe van die gebeure.
Hentie Fourie is na bewering deur haar man, Johan, vermoor. Foto: Facebook/Hentie Fourie
Ten tyde van die voorval was die paartjie na bewering alleen tuis. Een weergawe is dat hulle saam in die sitkamer was toe Hentie skielik na die slaapkamer gegaan het. ’n Skoot is na bewering oomblikke later gehoor, en haar liggaam is met ’n noodlottige skietwond gevind.
Met hul aankoms op die toneel het die polisie toetse uitgevoer en vir ballistiese ontleding op die vuurwapen beslag gelê. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Verdere forensiese ondersoeke het egter twyfel gewerp op die aanvanklike weergawe.
’n Nadoodse ondersoek wat in Bethlehem uitgevoer is, het aan die lig gebring dat Hentie van agter geskiet is, nie van voor, soos aanvanklik vermoed is nie. Gevolglik is die saak as ’n moordondersoek herklassifiseer, wat tot Fourie se inhegtenisneming gelei het.
Fourie is op 31 Maart op borgtog van R5 000 vrygelaat.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.