On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

DA omgekrap oor aanstelling in Sol Plaatje-munisipaliteit

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Wed, 08 Oct 2025

DA omgekrap oor aanstelling in Sol Plaatje-munisipaliteit  | News Article
Sol Plaatje-munisipaliteit het ’n nuwe waarnemende munisipale bestuurder,.

Die DA dring aan op ’n dringende spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Die doel is om die aanstelling van ’n nuwe waarnemende munisipale bestuurder te bespreek. Busisiwe Magaguli is in die amp aangestel.

“Luidens ’n mediaverklaring wat in Maart vanjaar deur die NVG uitgereik is, het Magaguli skuld beken op bedrogklagte en ’n pleitverduideliking ingedien ingevolge art. 112(2) van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977),” sê Heinrich Pieterse, DA-koukusleier en raadslid in die munisipaliteit.

“Dit hou verband met haar indiening van vals eise vir reis- en verblyftoelaes in 2011 en 2012 by Mpumalanga se departement van finansies. Meer as R500 000 is in haar persoonlike bankrekening betaal.’

Die aanstelling van die waarnemende munisipale bestuurder is as ’n vertroulike item op die agenda vir die spesiale raadsvergadering van 1 Oktober opgeneem.

Geen voorafkennis 

Pieterse sê die DA is nie die geleentheid gegun om die curriculum vitae van die kandidaat na te gaan nie. “Ons het ook geen voorafkennis gehad van wie die kandidaat was nie, behalwe dat die aanstelling ’n sekondering (oorplasing) sou wees. 

“Enige sekondering deur Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, aan die Sol Plaatje-munisipaliteit moet met die nodige sorg en behoorlike sorgvuldigheid uitgevoer word.”

Dit is veral belangrik aangesien Thapelo Matlala, huidige munisipale bestuurder, na bewering weens onbehoorlike gedrag as voorsorgmaatreël geskors is. 

Vass sê dit is kommerwekkend dat ’n vraag geïgnoreer is oor Magaguli se optrede in die verlede. Sy is aanbeveel en gesekondeer deur die ANC in die raad.

Versoek vir raadsvergadering

“Gegewe die belangrikheid van hierdie saak en die implikasies daarvan vir bestuur, nakoming en openbare vertroue, is dit van kritieke belang dat die raad die geleentheid gegun word om oor die wettigheid en geskiktheid van hierdie sekondering te beraadslaag.”

Pieterse sê die DA het Maandag (6/10) ’n formele versoek ingedien vir ’n dringende spesiale raadsvergadering.

“Ons het ook versoek die munisipale regsdienste en die direktoraat van korporatiewe dienste opdrag gegee word om alle relevante dokumentasie en korrespondensie met betrekking tot die sekondering van Magaguli vir die raad se oorweging ter tafel te lê.”

Bekwame munisipale bestuurder

“Dit moet alle relevante inligting oor haar professionele geskiedenis insluit, sowel as enige faktore wat die besluit oor haar aanstelling in ’n pos met dié soort verantwoordelikheid by die Sol Plaatje-munisipaliteit kan beïnvloed.

“Inwoners van Sol Plaatje verdien ’n bekwame munisipale bestuurder wat skoon, etiese bestuur handhaaf en behoorlike dienslewering kan herstel.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

 OFM Nuus/Charne van der Merwe dg



@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.