Central SA
Aanranding by Hartswater-plaashek: Saak uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:40 Wed, 08 Oct 2025

’n Man van Hartswater in die Noord-Kaap sal weer op 7 November in die hof op die dorp verskyn op aanklag van poging tot moord op ’n boer van die omgewing.
Jannie Blom (30) het Dinsdag (7/10) in die landdroshof verskyn in verband met die aanranding van Hennie Becker (47). Becker is na bewering op 27 September by sy plaashek voor ’n familielid aangerand en ernstig beseer.
“Die Hartwater-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord ná die voorval,” sê sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder.
Hennie Becker. Foto verskaf
Becker is Maandag (6/10) uit die hospitaal in Kimberley ontslaan en het die saak by die polisie gaan aangemeld. Blom is daarna deur die polisie in hegtenis geneem.
Die polisie sê die motief vir die aanranding is nog onbekend en die Becker-familie is deur hul regsverteenwoordigers aangeraai om nie nou al met die media te praat nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.