Central SA
Gewas van Bloemfonteinse meisie versprei na haar brein─── ZENANDE MPAME 13:23 Wed, 08 Oct 2025

Die meisie (7) word in November geopereer nadat dokters bevestig het die gewas in haar nek is terug en het nou na haar brein versprei.
’n Chirurg van Kaapstad sal die operasie op Janique Venter in Bloemfontein uitvoer. Dit sal egter nie ’n enkele prosedure wees nie, maar is die begin van ’n lang mediese reis vir haar en haar ouers.
Janique vier Vrydag (10/10) haar agtste verjaardag. Arms of Mercy, ’n maatskappy sonder winsbejag beplan om haar verjaarsdag spesiaal te maak voor die volgende reeks operasies.
Janique en haar ouers, Nadine Mukheibir en Jacques Venter, het in Februarie van Amerika na Bloemfontein teruggekeer.
Dokters van die St Jude Children’s Research Hospital in Memphis, Tennessee, het in Januarie die ganglioneurome aan die regterkant van haar nek verwyder.
“Vorige chemoterapie en bestralings het ongelukkig nie gewerk nie en die enigste pad vorentoe is herhaalde operasies om die gewas aanhoudend te verwyder totdat dit heeltemal verdwyn,” sê Mukheibir.
“Hierdie operasies hou ernstige risiko’s in en ons gebed is dat God vir Janique sal beskerm en haar veilig deur dit sal dra. Sy het reeds soveel pyn en trauma verduur, maar straal steeds ’n gees van krag en moed uit wat ons almal inspireer.
“Onthou asseblief vir Janique in jul gedagtes en gebede want daar is werklik krag in gebed.”
In Maart was Janique se gesig en nek steeds baie styf en fisioterapie is aanbeveel . Dit kon eers begin ná die verwydering van haar trageostomie.
Terwyl sy by die St Jude Children’s Research Hospital was het sy twee groot operasies ondergaan insluitend die permanente afsluiting van die regterslagaar om te verseker dat die linkerslagaar genoeg bloed aan haar brein kan voorsien.
Die volgende dag het dokters die gewas uit haar nek verwyder in ’n operasie wat 21 uur geduur het.
Mukheibir sê niks keer haar dogter nie en omdat sy van swem hou, het sy weer begin swem met ’n spesiale buis om haar nek. “Ons kleinding het veggees en niks keer haar om te doen wat sy graag wil nie.”
Janique was net ses maande oud toe fase 3-neuroblastoom by haar gediagnoseer is. Dit is ’n kanker wat meestal in die byniere voorkom maar ook in die maag, bors, nek, kop en ruggraat kan ontwikkel.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.