On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse vrou steeds spoorloos ná vyf maande

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:13 Wed, 08 Oct 2025

Vrystaatse vrou steeds spoorloos ná vyf maande | News Article
Anuschka Janine Saunders. Foto verskaf

Dit is vyf maande sedert ’n vrou van Welkom spoorloos verdwyn het en haar familie soek steeds desperaat na antwoorde. Ten spyte van talle pogings en polisiebetrokkenheid, is daar steeds geen teken van Anuschka Janine Saunders (32) nie.

Saunders (32) is laas op 27 Mei 2025 omstreeks 18:00 in Seemeeupark, Welkom, gesien. Sy het glo omstreeks 17:20 melk gaan koop, en teen 18:00 was haar foon reeds af. Sedertdien is sy nie weer gesien nie en is niks van haar gehoor nie, sê haar ma, Monika Ras.

Die familie het haar twee dae later, op 29 Mei, as vermis aangemeld nadat hulle besef het niemand het nog van haar gehoor nie. “Die speurders het na my huis gekom vir inligting en toe na Bothastraat gegaan om met die vriend by wie sy gebly het, te praat, maar daarna het nie veel gebeur nie.”

Daar was een moontlike waarneming van haar in die nywerheidsgebied, maar die leidraad het uiteindelik op niks uitgeloop nie. “Ons het oral gesoek en pamflette met haar foto en besonderhede opgeplak, maar steeds niks,” sê Ras.

Optrede teen haar aard

Sy glo iets het dalk met haar dogter gebeur, veral nadat sy uitgevind het van ’n onderonsie wat na bewering tussen haar en haar man plaasgevind het kort voordat sy vermis geraak het.

“Haar kinders is in Georgia saam met haar eerste man, en haar huidige man het by Roots naby Manny’s gewerk. Ná ‘n onderonsie het hy voor 20:00 daardie aand gevlug. Daar was aktiwiteit op sy Facebook-rekening, maar niks van my dogter nie.”

Volgens Ras is dit heeltemal teen haar dogter se aard om te verdwyn sonder om haar geliefdes te kontak. “Al haar besittings is steeds by die vriendin by wie sy gebly het. Dit is nie soos sy is om alle bande te verbreek nie – veral nie met haar twee kinders nie. Iets is beslis verkeerd,” het Ras gesê.

Littekens, tatoeëermerke

Saunders is ongeveer 1,6 meter lank en weeg ongeveer 75 kg. Sy het bruin oë en medium-lengte bruin hare.

Sy het verskeie kenmerkende littekens en tatoeëermerke. Dit sluit in ’n sny op haar linkerduim, ’n litteken op haar voet, en tatoeëermerke aan die binnekant van haar voorarms en haar ringvinger. Sy het ook piercings op haar maag en in haar ore en tong.

Ten tyde van haar verdwyning was sy na bewering te voet, aangesien sy en haar man nie ’n voertuig gehad het nie. Die polisie-ondersoek na haar verdwyning duur voort.

Enigiemand met inligting oor waar sy haar bevind, word versoek om sers. Emily Manake onmiddellik by 057 910 9720 of 065 853 0130 te kontak.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.