Central SA
Vermiste man van Olifantsnek gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:55 Thu, 09 Oct 2025

Die man van Noordwes wat vir byna twee dae vermis was, is gevind en in die hospitaal opgeneem.
Alwin Dorman (39) van Olifantsnek is Woensdag (8/10) in sy voertuig in ’n beboste gebied net langs die R30 gevind. Hy het Maandag net ná 20:00 laas met sy ma gepraat.
“Tydens die oproep het hy na bewering vir haar gesê hy weet nie waar hy is nie en dat hy net bosse rondom hom sien,” het Ansie Pretorius van die Rustenburg-misdaadbestrydingsforum (RCCF) gesê.
Familielede van Dorman het die publiek se hulp gevra om hom op te spoor nadat sy selfoon sedert die oproep af was.
Alwin Dorman. Foto verskaf
Die RCCF het hul hulp aangebied om na hom te soek en alle leidrade is opgevolg.
“Die RCCF-lede het met ’n intensiewe soektog in geteikende gebiede langs die R24- en R30-begin. Verskeie lede van die buurtwag en die Rustenburgse misdaadtaakgroep het hulle by die soektog aangesluit,” sê sy. Danksy GPS-tegnologie en die gebruik van hommeltuie is Dorman se voertuig omstreeks 20:55 opgespoor en geïdentifiseer.
Hy is in ’n ernstige toestand gevind en was erg ontwater. Die Rustenburg First Responders en JustMed 24 is na die toneel ontbied en het hom gestabiliseer.
Geen wagtydperk
Die Noordwes-polisie sê daar is geen wagtydperk voor ’n persoon as vermis aangemeld kan word nie. Vroeë aanmelding verbeter die kanse op ’n suksesvolle uitkoms. Die volgende kan help:
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik.
- Gee ’n volledige beskrywing van waar die vermiste persoon woon, die klere wat hy of sy aan gehad het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help.
- Vul ’n SAPD 55(A)-vorm in en onderteken dit. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en magtig hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei.
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word, direk aan hom of haar.
- As ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet ingevul word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se verslag uit die verspreidingstelsel gehaal kan word.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.