Central SA
Nostalgiese Britse ballades in Sterrewagteater─── SUSAN MARÉ 15:14 Fri, 10 Oct 2025

’n Musiekkonsert met die tema Ballads of the British Isles word op 21 November in die Sterrewagteater in Bloemfontein gehou. Dit is ten bate van ’n nuwe pyporrel in die katedraal van St. Andrew & St. Michael in St. Georgesstraat.
Adri Maryke van Heerden (klavier, sang en kitaar), Diandra Steenkamp (viool en sang) en Maretha Krige (klavier, perkussie, blokfluit en kitaar) is van die kunstenaars. Die gewilde Bloemfontein Scottish Bagpipe Band gaan vooraf in die buitelug by die Sterrewagteater optree.
Die katedraal is ’n nasionale gedenkwaardigheid met ’n geskiedenis wat dateer vanaf 1846 toe die eerste steen van dié Anglikaanse kerk gelê is.
Die eerste diens was op 5 Mei 1850. Dit is vandag die tuiste van sowat 300 gesinne van bykans elke taalgroep in die omgewing.
Die Bloemfontein Scottish Bagpipe Band. Foto verskaf
Krige, orrelis van die Anglikaanse kerk, sê die ou Hill-pyporrel van die katedraal is in die laat 1990’s vervang met ’n elektroniese Allen-orrel. Ná lang diens was die Allen-orrel se elektroniese en luidsprekerstelsel nie meer na wense nie.
Lance Philip, direkteur van musiek by die katedraal, was op soek na ’n waardige pyporrel.
Jan Elsenaar, orrelbouer en eienaar van Protea Orrelbouers in Brandfort, het Philip vertel van ’n gepaste instrument wat beskikbaar is ná die sluiting van ’n NG kerk in Graaff-Reinet. Dit is ’n Dekker-orrel wat deur ’n Nederlander gebou is, maar die disposisie is dié van ’n Engelse orrel.
Die orrel is gratis aan die katedraal geskenk. Die opbrengs van die konsert gaan vir die installasie gebruik word. “Ons is baie opgewonde oor die nuwe orrel. Jan en sy seun, Marinus, het die orrel na Bloemfontein gebring en het ook die orrel geïnstalleer.
“Noudat ons weer musiek kan maak met ’n outentieke, waardige instrument wat perfek pas by die eeue-oue Anglikaanse kerkmusiektradisie stel selfs oorsese en plaaslike orreliste weer belang om konserte by ons aan te bied.
“Die gemeente is baie tevrede en die gemeentesang het beslis vooruitgegaan. Die orrelklank versmelt beter met die koorsang. Ons het een keer elke maand ’n Choral Evensong (’n Anglikaanse aanddiens waarin die liturgie gesing word deur ’n koor) waar die diens deur ons Cathedral Singers behartig word.’
Musiekprogram met Keltiese karakter
OFM Nuus het ook met Van Heerden gepraat. Sy sê die musiekprogram met sy Keltiese karakter in die Sterrewagteater beloof om ’n aand van nostalgie te wees.
Van die mees ikoniese ballades van die Britse Eilande is bekende melodieë wat ’n groot stempel afgedruk het op wêreldwye volksmusiek.
“ ’n Lied soos ‘Danny Boy’ uit Ierland is vir seker op die program, maar dit sal die Celtic Woman-weergawe wees. Daar is ook ’n paar Skotse items op die program.
“Ons het besluit om slegs musiek te speel wat ballades is – met ander woorde, stukke wat tradisioneel gesing word of wat ’n bekende en gewilde melodie het. Een van die stukke is ‘For the Love of a Princess’ uit die rolprent Braveheart.
“Wat is so ’n aand sonder Bloemfontein se doedelsakorkes? Die Bloemfontein Scottish Bagpipe Band sal hul Skotse musiekstempel oor Naval Hill laat klink.
“Dit is vir ons as kunstenaars ’n voorreg om ten bate van die katedraal se nuwe pyporrel deel te kan wees van die konsert op 21 November.”
Kaartjies kan by Quicket gekoop word teen R120 per volwassene en R50 per kind.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.