On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Welkomse prokureur eers later gevonnis vir seksuele misdrywe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:25 Mon, 13 Oct 2025

Welkomse prokureur eers later gevonnis vir seksuele misdrywe | News Article
Foto ter illustrasie: Pixabay

’n Prokureur van Welkom wat skuldig bevind is aan verskeie seksuele oortredings, insluitend verkragting, moet nou langer wag om sy vonnis aan te hoor nadat sy saak in die Bloemfonteinse hooggeregshof weer uitgestel is.

Jan Gysbert Maritz (57) het met sy verskyning Woensdag (8/10) nuwe regsverteenwoordiging gekry, wat die vonnisoplegging vertraag het. Adv. Coenie Pieterse is aangestel om hom te verteenwoordig.

Die NVG bevestig Maritz is skuldig bevind aan talle seksuele oortredings. ’n vonnisdatum sal binnekort bekendgemaak word.

“Bewerings dat niks in die saak gebeur het nie of dat Maritz nie skuldig bevind is nie, is vals en misleidend,” sê Mojalefa Senokoatsane, Vrystaatse NVG-woordvoerder.

Maritz, wat teregstaan op 18 aanklagte ingevolge wetgewing oor seksuele misdrywe en een van aanranding, is skuldig bevind aan 16 aanklagte, insluitend drie van verkragting en verskeie van die seksuele aanranding van minderjariges.

Die misdade is tussen 2007 en 2014 op Virginia, Odendaalsrus en in Welkom gepleeg. Al die slagoffers was destyds minderjarig. Die saak duur al sedert Mei 2021, toe Maritz aanvanklik skuld ontken het. Hy het later sy pleit verander nadat die eerste staatsgetuie begin getuig het.

“Hy het ’n pleitooreenkoms aangegaan en skuld beken op 16 aanklagte, wat verkragting, seksuele aanranding en vier van aanranding insluit,” het kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Al het hy skuld beken, het Maritz herhaaldelik probeer om die verrigtinge te vertraag. Sy vonnisoplegging was aanvanklik vasgestel vir 14 September 2021, maar moes uitgestel word toe sy regspan om etiese redes onttrek het.

Hy het later probeer om sy skulderkenning terug te trek, maar die hof het die versoek van die hand gewys en genoem dat hy reeds skuldig bevind is. Maritz het ook ’n reeks onsuksesvolle appèlaansoeke ingedien, insluitend ’n poging om regter Soma Naidoo aan die saak te laat onttrek.

Internasionale Vereniging van Vroueregters

Hy het beweer sy was bevooroordeeld weens haar verbintenis met die Internasionale Vereniging van Vroueregters en haar standpunt teen geslagsgeweld.

“Sy aansoek om die regter se onttrekking is deur die hooggeregshof, die appèlhof en uiteindelik die Konstitusionele Hof van die hand gewys, wat in September beslis het dat sy aansoek geen redelike vooruitsig op sukses gehad het nie,” sê Senokoatsane.

Maritz se vonnisoplegging sal volgende week hervat word. Die hof sal waarskynlik die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf vir die verkragting van minderjariges oorweeg, mits daar verswarende omstandighede is.

‘Waninligting oor saak sterk veroordeel’

“Die aanklaer het die doelbewuste verspreiding van waninligting oor die saak sterk veroordeel en gewaarsku dat sulke optrede vertroue in die regstelsel ondermyn en die oorlewendes verder skaad.”

Die NVG bly vasbeslote in sy grondwetlike mandaat om die oppergesag van die reg te handhaaf, geregtigheid vir die slagoffers van seksuele en geslagsgeweld te verseker, sê hy, en oortreders aanspreeklik te hou, ongeag hul beroep- of maatskaplike status.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.