On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vyf Vrystaters terug in hof ná Jagersfontein-ramp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:00 Wed, 22 Oct 2025

Vyf Vrystaters terug in hof ná Jagersfontein-ramp | News Article
Die beskuldigdes, onder wie ook ’n verteenwoordiger van Jagersfontein Developments, vroeër in die Jagersfontein-landdroshof. Foto: Charne van der Merwe

Die vyf mans wat van die Jagersfontein-ramp beskuldig word, sal na verwagting weer op 22 Oktober in die hof verskyn.

Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45) het op 9 September in Jagersfontein se landdroshof voorgekom. Jagersfontein Developments word ook aangekla.

Die saak is aanvanklik uitgestel om die verdedigingspanne toegang tot die saakdossier te gee en genoeg tyd te gun om die inhoud daarvan na te gaan. Die vyftal, saam met verskeie maatskappye, staan tereg op altesaam 13 aanklagte, waaronder moord, omgewingsbesoedeling en oortredings van regulasies oor damveiligheid.

Aanklagte sluit die volgende in:

  • drie van moord, ingevolge art. 51(1) van die Strafregwysigingswet (Wet 105 van 1997);
  • beduidende omgewingsbesoedeling;
  • versuim om te voldoen aan lisensievoorwaardes vir waterverbruik;
  • die verskaffing van valse of onvolledige inligting;
  • die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie (DWS) om hul pligte uit te voer;
  • die versuim om DWS-riglyne na te kom;
  • die versuim om ’n dam met veiligheidsrisiko’s te registreer;
  • ongemagtigde veranderinge aan ’n dam met veiligheidsrisiko’s;
  • die versuim om ’n professionele span vir damontwerp aan te stel;
  • die versuim om aan kategorie III-dammonitering en -rapportering te voldoen;
  • die versuim om aan kategorie III-damveiligheidsvereistes te voldoen;
  • die oortreding van art. 9 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid; en
  • kwaadwillige saakbeskadiging (121 aanklagte).

Volgens die skikkingsakte staan die beskuldigdes tereg op aanklagte wat verband hou met die dood van Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu, wat op 11 September 2022 oorlede is. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie.

Die wal van die slikdam het vermoedelik meegegee weens oortredings van die lisensievoorwaardes vir waterverbruik, die verontagsaming van die riglyne van die departement van water en sanitasie, en die indiening van substandaard stabiliteitsverslae.


Die ramp het ’n verwoestende uitwerking op die Suid-Vrystaatse dorp gehad. Ongeveer 186 inwoners van Charlesville en Itumeleng het hul huis verloor. Volgens die Bench-Marks-stigting het ’n Vlakfontein-boer  ook ernstige verliese gely toe 90% van sy skape in die voorval omgekom het.

“Die Jagersfontein-slikdamramp het enorme skade aan eiendom veroorsaak en tot die tragiese lewensverlies gelei,” het dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, gesê. “Ons verwelkom die dagvaardings wat uitgereik is aan die individue wat nou aanspreeklik gehou moet word. Waarskuwings is lank voor die gebeurtenis uitgereik, maar hulle is geïgnoreer.”

Gemeenskapslede in die hof. Foto: Charne van der Merwe

Die strafregtelike vervolging volg op ’n omvattende ondersoek deur die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing. Gegrond op die bevindinge het die NVG aanklagte ingestel teen die beskuldigdes.

Adv. Johan Roothman lei die vervolging. Adv. Barry Roux verteenwoordig De Villiers, Combrink en Jagersfontein Developments, terwyl adv. Allen Simpson vir Viljoen optree

Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners en adv. Mannie Witz verteenwoordig SRK Consulting (Suid-Afrika).

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.