Central SA
Kovsies betoog terwyl ses vir brandstigting voorkom─── ZENANDE MPAME 14:20 Mon, 13 Oct 2025

’n Groep studente van die Universiteit van die Vrystaat het saamgedrom buite die Bloemfonteinse landdroshof in afwagting van die verskyning van ses medestudente, wat teregstaan op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en poging tot brandstigting.
Die studente (tussen 19 en 24) is Saterdag (11/10) deur GAP Management Sekuriteitsbeamptes aangekeer nadat hulle glo ’n tuisgemaakte petrolbom na die wagkamer by Hek 2 in Badenhorststraat gegooi het.
Studente betoog teen die UV se voorgenome beëindiging van voorlopige registrasie vanaf volgende jaar. Studente het Maandag (13/10) reeds van vroegoggend op die hoofkampus begin saamtrek om akademiese werksaamhede te ontwrig.
Die universiteit het besluit om alle akademiese aktiwiteite op sy drie kampusse – Bloemfontein, Suid en Qwaqwa – vanaf Donderdag (9/10) aanlyn voort te sit, ná ontwrigtings wat verband hou met die geleidelike uitfasering van voorlopige registrasie.
“Die polisie en misdaadtoneelkenners is ontbied om die toneel te verwerk,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Die verdagtes sou na verwagting Maandag voorkom.
“Die saak teen die ses studente wat die naweek in hegtenis geneem is, is redelik ernstig, maar ons hoop dat die hof, omdat hulle studente is, dalk ’n bietjie genadiger sal wees,” sê Ogorogile Moleme, studenteraadsvoorsitter op die Bloemfonteinse kampus.
‘Poging tot brandstigting’
“Die klagte teen hulle sluit poging tot brandstigting, openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in; daarom is dit nogal ernstig. Maar dit hang nog van die hof af, en ons vertrou die advokaat.“
Hy sê hulle het die verdagtes nodig om die universiteit se besluit te beveg. “Op hierdie stadium kan ons nie nog inhegtenisnemings bekostig nie, want ons het mekaar nodig …”
Die universiteit sê in ’n verklaring vanaf 2026 sal hy “ ’n billiker, regverdiger en meer volhoubare model vir geldelike ondersteunings aan studente invoer. Hy beskryf dit as ’n “hersiene en vereenvoudigde stelsel”. Studente sal vanaf Januarie ten volle geregistreer wees sodra hul gelde of finansiering bevestig is.
Volgens ’n ooreenkoms sal die geleidelike implementering van die nuwe stelsel geen uitwerking hê op studente met bevestigde finansiering van Nsfas nie, ongeag hul geskiedkundige skuldstatus.
Studente met uitstaande skuld van minder as R30 000 sal steeds ten volle kan registreer vir 2026, mits ’n eerste betaling onder meer gemaak word en die historiese skuld teen 30 Mei vereffen is.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.