On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Pa kry borg ná minderjarige seun plaaswerker glo doodskiet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:55 Mon, 13 Oct 2025

Pa kry borg ná minderjarige seun plaaswerker glo doodskiet | News Article
Die seun het na bewering tarentale geskiet toe ’n plaaswerker in die bors gewond is. Foto ter illustrasie: iStock

Die pa van ’n minderjarige seun, wat na bewering ’n plaaswerker in Limpopo doodgeskiet het, is op borgtog vrygelaat.

Die 43-jarige, wie se naam nie ingevolge die Kinderwet genoem kan word nie, het Maandag (13/10) in die landdroshof op Thabazimbi voorgekom op ’n aanklag van versuim om ’n vuurwapen veilig te bêre. Hy is op borgtog van R3 000 vrygelaat, sê kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.

“Die seun het na bewering Saterdag omstreeks 05:45 tarentale op die plaas naby Thabazimbi geskiet toe hy na bewering per ongeluk ’n plaaswerker in die bors gewond het. 

Foto ter illustrasie: iStock

“Nooddienste het die man op die toneel dood verklaar. Die slagoffer is in die bors gewond.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, spreek haar diepe skok oor die voorval uit. 

“Dit is ’n hartverskeurende voorval en ’n herinnering dat vuurwapens deurentyd versigtig gehanteer moet word. Ouers en voogde moet toesien dat kinders nie toegang tot vuurwapens het nie.”

Redelike voorsorgmaatreëls

Kragtens die Wet op Vuurwapenbeheer het elke mens wat ’n vuurwapen in Suid-Afrika besit, ’n regsplig om te verseker dat dit veilig gebêre word. Die wet vereis dat ’n vuurwapen in ’n geweerkluis bewaar word wanneer dit nie gebruik word nie.

Die kluis moet toegesluit wees. Slegs die gelisensieerde eienaar mag die sleutel of kode hê. Enige ammunisie moet ook apart geberg word, en die wapen moet ongelaai bly tensy dit wettiglik gedra of gebruik word. 

Die wet maak dit duidelik dat vuurwapeneienaars redelike voorsorgmaatreëls moet tref om te verhoed dat kinders of enige ongemagtigde persone toegang tot die wapen verkry. As ’n minderjarige ’n vuurwapen weens nalatigheid in die hande kry, kan die gelisensieerde eienaar strafregtelik vervolg word.

Verantwoordelike vuurwapenbesit

Oortredings kan insluit die versuim om ’n vuurwapen te beskerm, wat kan lei tot boetes, gevangenisstraf en die moontlike kansellasie van ’n vuurwapenlisensie. 

Beamptes en mense wat wapenveiligheid bevorder beklemtoon steeds dat verantwoordelike vuurwapenbesit nie net ’n wetlike verpligting is nie, maar ook noodsaaklik is vir die beskerming van gesinne en gemeenskappe.

Onlangse tragedies waarin kinders toegang tot onbeveiligde wapens verkry het, onderstreep die verwoestende gevolge van die versuim om aan hierdie vereistes te voldoen.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of Whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.