On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Malariareaksie in Suid-Vrystaat opgeskerp

───   ZENANDE MPAME 08:00 Tue, 14 Oct 2025

Malariareaksie in Suid-Vrystaat opgeskerp | News Article
Malariareaksie in Suid-Vrystaat opgeskerp. Foto: iStock

Hernude pogings word aangewend om te keer dat malaria in die Suid-Vrystaat versprei terwyl reaksiespanne gemeenskapsvoorligting en aktiewe siftingsprosesse opskerp.

Geen nuwe gevalle van malaria is buite die aanvanklik bevestigde gesinsgroep in Luckhoff aangemeld nie. Die begrafnisdiens van Albé Grobbelaar (53), ’n gerespekteerde boer van die distrik, word op Saterdag 25 Oktober in die NG Kerk Luckhoff gehou.

Volgens die Vrystaatse departement van gesondheid is Louis Grobbelaar (23), sy seun, uit Mediclinic Bloemfontein ontslaan en het hy veilig teruggekeer na Potchefstroom, waar hy aan die Noordwes-Universiteit studeer. Grobbelaar se vrou, Sorita (50), is uit die hoësorgeenheid oorgeplaas en sterk aan in ’n algemene saal.

Die begrafnisdiens van Albé Grobbelaar sal plaascind in die NG Kerk in Luckhoff Saterdag 25 October. Foto: Morné van Rooyen

Gesondheidsamptenare het die Grobbelaars se plaas en omliggende plase besoek. Niemand het enige simptome van malaria getoon nie.

“Die bron van die infeksie in hierdie nie-endemiese gebied bly onbekend,” sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid. “Provinsiale en nasionale kenners ondersoek die saak om die oorsprong vas te stel en ’n wetenskaplike verduideliking te bied.”

’n Span entomoloë van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes besoek dié week die Xhariep-distrik om muskietmonsters te versamel vir toetsing. Die doel is om vas te stel of Anopheles-muskiete, wat malaria kan oordra, in die gebied voorkom.


Mvambi sê voorlopige genetiese toetse dui daarop dat die drie familielede moontlik deur dieselfde muskiet gebyt is. “Ons spanne gebruik bewysgebaseerde maatreëls soos verbeterde monitering, geteikende vektorkontrole, vinnige diagnose en tydige behandeling.”

Die departement waarsku inwoners om waaksaam te wees. Enigiemand wat onlangs malariagebiede besoek het en simptome soos koors, kouekoors, hoofpyn, liggaamspyn of grieperigheid ontwikkel, moet onmiddellik mediese hulp soek by die naaste kliniek of hospitaal.

Om muskietbyte te voorkom, word aanbeveel dat mense afweermiddels gebruik, langmouklere dra tussen skemeraand en dagbreek en stilstaande water naby huise verwyder.

Die simptome is koors, kouekoors, hoofpyn of liggaamspyn. Foto: up.ac.za

Die publiek word versoek om op hoogte te bly deur amptelike opdaterings van die Vrystaatse gesondheidsdepartement te volg en om nie onbevestigde inligting te versprei nie.

“Ons sal verdere opdaterings verskaf soos die ondersoek vorder,” sê Mvambi. “Die Vrystaat bly ’n nie-endemiese provinsie vir malaria en die risiko vir die breë publiek is tans laag.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.