On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Qwaqwa: Studente gevra om kampus te ontruim

───   ZENANDE MPAME 09:29 Tue, 14 Oct 2025

Qwaqwa: Studente gevra om kampus te ontruim | News Article
Qwaqwa-kampusstudente gevra om te ontruim. Foto: UFS

Die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het die situasie op al drie kampusse geëvalueer en besluit die Qwaqwa-kampus sal vanaf Dinsdag (14/10) met onmiddellike effek gesluit word.

Studente op die Qwaqwa-kampus is gevra om die terrein binne die volgende 24 uur te verlaat. Die besluit volg op wydverspreide vandalisme en skade aan eiendom op die kampus weens protes teen die UV se voorgestelde beëindiging van voorlopige registrasie vanaf volgende jaar.

Op die Bloemfontein-kampus moet 15 studente op 4 November weer in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn nadat hulle vroeër op waarskuwing vrygelaat is.

Nege studente is verlede week in hegtenis geneem vir openbare geweld tydens betogings. Die oorblywende ses word aangekla van opsetlike saakbeskadiging en poging tot brandstigting nadat hulle glo Saterdag (11/10)  ’n selfgemaakte petrolbom na ’n veiligheidswag se kantoor op die kampus gegooi het.

“Alle lesings op die Bloemfontein- en Suidkampusse is opgeskort tot verdere kennisgewing,” sê Lacea Loader. UV-woordvoerder. Studente het Maandag (13/10) vroeg op die hoofkampus begin saamtrek om akademiese bedrywighede te ontwrig. 

Die universiteit het besluit om alle akademiese aktiwiteite op sy drie kampusse – Bloemfontein, Suid en Qwaqwa – vanaf Donderdag (9/10) aanlyn voort te sit, ná ontwrigtings oor die geleidelike uitfasering van voorlopige registrasie. Slegs beperkte beweging sal op die kampus toegelaat word tussen 19:00 en 07:00.

“Die uitvoerende bestuur nooi die studenterade van al drie kampusse uit vir verdere gesprekvoering,” sê Loader. Tydens ’n vergadering met universiteitsbestuur is bevestig die geleidelike invoer van die nuwe stelsel en benadering sal nie studente met bevestigde befondsing van Nsfas raak nie, ongeag hul geskiedkundige skuldstatus.

Die besluit raak ook nie studente met bevestigde finansiële hulp en geskiedkundige skuld van minder as R20 000 nie, of dié met skuld van minder as R30 000 nie. Hierdie studente mag ten volle vir 2026 registreer, mits hulle die eerste betaling doen en hul geskiedkundige skuld teen 30 Mei 2026 vereffen.

Studente met skuld van meer as R30 000 sal hul skuld tot R30 000 moet verminder om vir registrasie te kwalifiseer.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.