Central SA
‘Vermiste’ tiener glo in Bloem, vra familie moenie na haar soek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:46 Wed, 15 Oct 2025

’n Tiener van Gauteng vra in ’n video op sosiale media haar familie moet haar uitlos en nie na haar soek nie nadat sy van die huis af weggeloop het en haar nou glo in Bloemfontein bevind.
Camron Biance Byleveldt (16) is Vrydag (10/10) omstreeks 09:15 laas by haar huis in Hamiltonlaan, Brakpan, gesien. Sy het ’n blou denim en wit Puma-tekkies met pienk op die hak gedra.
In haar video op Facebook verseker Camron haar gesin dat sy veilig is en tans deur ’n vriend versorg word.
“Ek is in Bloemfontein by een van my vriende. Ek gaan nie sê waar nie en ook nie die adres vir enigiemand gee nie.” Sy het besin oor die uitdagings wat haar tuis in die gesig gestaar het en het ’n behoefte aan ruimte.
“Ek wil nie hê dat die polisie, my pa, my ouma, of enigiemand na my moet kom soek nie. Ek gaan nie met enigiemand in my familie kontak maak totdat ek persoonlik voel dat ek reg is om met hulle te praat nie.”
In die video vra sy ook verskoning oor die stres wat haar “verdwyning” haar geliefdes kon veroorsaak het. Volgens haar gaan sy nou ook die nodige stappe doen om haar welstand te verseker en met maatskaplike werkers en haar dokter gesels.
“Ek is baie gelukkig waar ek is. Ek word goed versorg. Laat my asseblief my lewe leef. Laat my wees wie ek nou is. Ek belowe dat ek weer gelukkig sal en kan wees.”
OFM Nuus het Cameron sê pa, Josua, genader. Hy wou egter nie met die media praat nie en het gesê ’n familiewoordvoerder sou binnekort kontak maak.
Enigiemand met inligting word versoek om Brakpan se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe te nader by 011 744 7100 of Missing Children South Africa by 072 647 7464.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.