Central SA
Kuruman-plaasmoord: Verdagtes se borgtogaansoek duur voort─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:29 Thu, 16 Oct 2025

Die beskuldigdes in die moordsaak van ’n Noord-Kaapse boer sal na verwagting Vrydag (17/10) hul borgtogaansoek voortsit.
Potso Bogodile (21), Jan Tata (18), Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) het Dinsdag (14/10) in Kuruman se landdroshof verskyn vir die voortsetting van hul borgtogaansoeke. Die viertal word daarvan beskuldig dat hulle Hendrik Venter (81), ’n veeboer van Kuruman, in September op sy plaas vermoor het.
Venter het Kameelaar, die plaas waar hy gewoon het, een oggend omstreeks 08:30 verlaat om ’n ander plaas te besoek. ’n Boer van ’n buurplaas het omstreeks 09:45 op sy liggaam afgekom langs sy voertuig by die hek van die eiendom.
DA-LP Willie Aucamp, die familie se woordvoerder, sê hulle is gekant teen borgtog. “Plaasmoorde is ’n euwel wat uitgeroei moet word, en die DA sal hierdie saak steeds noukeurig dophou.”
Hendrik Venter is in September 2024 dood aangetref by die hek van sy plaas. Foto: Facebook
Met die hofverskyning op 8 Augustus het die verdediging beswaar gemaak teen die wyse waarop die beskuldigdes voor die hof gebring is en aangevoer dat hul inhegtenisneming onwettig was.
Die hof het egter hul besware van die hand gewys. “Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger het sedertdien gesê hulle gaan teen die uitspraak appelleer,” het Lize-Mari Smit, AfriForum se Karoo-distrikskoördineerder, vroeër gesê.
Die saak is vir verhoor na die hooggeregshof verwys, wat in Kathu sal sit.
“Hierdie ontwikkeling toon dat die staat die erns van hierdie misdaad erken deur dit na ’n hoër hof te verwys. Ek is optimisties dat, indien skuldig bevind, hierdie oordrag tot ’n strenger vonnis sal lei,” sê Smit.
Saak voorlopig geskrap
Die beskuldigde is aanvanklik vrygelaat en die saak is op 10 April voorlopig van die rol geskrap weens ’n gebrekkige polisiedossier en swak ondersoekwerk. Ná volgehoue druk van AfriForum en die DA is die verdagtes op 29 Julie weer in hegtenis geneem. Aucamp sê sy party sal al die hofverrigtinge bywoon om te verseker al die regsprosesse word gevolg.
Dit is onaanvaarbaar dat die moordverdagtes vrygelaat is weens administratiewe foute en die onvoorbereidheid van die staat se meganismes, meen Thomas van Dalen, Noord-Kaapse streekhoof van AfriForum. “Die feit dat hierdie saak eers herleef het ná volgehoue druk van AfriForum en die gemeenskap, is ’n ernstige aanklag teen die stelsel.”
Van Dalen verwelkom die onlangse vordering, die tekortkominge ten spyt. “Ons is bly dat die staat nou sy verantwoordelikheid nagekom het. Dit is bemoedigend om te sien dat geregtigheid vorentoe beweeg. Ons sal nie stilbly totdat dit ten volle geskied nie. Hierdie saak moet ’n maatstaf word vir hoe die staat plaasmoorde hanteer.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs