On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Mediese program van Hoopstad-arts wek hoop

───   SUSAN MARÉ 12:01 Thu, 16 Oct 2025

Mediese program van Hoopstad-arts wek hoop | News Article
Dr. Leané van der Merwe, ’n plaaslike geneesheer van Hoopstad, is die brein- en dryfkrag agter Predictive Response Integrating Medical Expertise (Prime). Foto verskaf

’n “Uitsonderlik intelligente” mediese program, wat die lewe vir dokters en verpleegkundiges heelwat behoort te vergemaklik, word tans in Hoopstad in die Vrystaat ontwikkel.

Dr. Leané van der Merwe, ’n plaaslike geneesheer, is die brein- en dryfkrag agter Predictive Response Integrating Medical Expertise (Prime). Met Prime word kunsmatige intelligensie (KI) ingespan om verpleegkundiges en dokters te help om vinniger, veiliger en akkurater diagnoses te maak.

Dit is die eerste keer dat ’n innoverende projek van dié aard in Suid-Afrika geloods word. Die eerste kliniese proef van die stelsel begin in November 2025, wanneer sowat 400 pasiënte oor ’n paar maande geëvalueer sal word. 

Die doel van Prime is om te wys dat die tegnologie veilig en betroubaar is, en dat dit ’n realistiese oplossing bied vir die tekort aan mediese personeel in landelike gebiede, sê Van der Merwe.

Prime is spesiaal ontwerp vir Suid-Afrikaanse omstandighede, gegrond op plaaslike mediese riglyne en die lys van noodsaaklike medisyne. Dit ondersteun klinieke waar dokters skaars is en verpleegkundiges dikwels leiding neem met versorging.

Hierdie is ’n verhaal van hoop – van hoe baanbrekertegnologie en die toewyding van ’n dorpsdokter nuwe moontlikhede vir gesondheidsorg op die Suid-Afrikaanse platteland en landswyd in dokterspraktyke kan bring.

Dr. Leané van der Merwe in haar spreekkamer. Foto verskaf

Van der Merwe sê aan OFM Nuus Prime “verstaan” die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel, die landstale en ander unieke uitdagings. Die doel is om goeie gesondheidsorg meer toeganklik te maak, selfs op klein dorpe en in oorvol klinieke.

“Ons stuur tans kliniese proewe van stapel om te wys dat Prime se diagnoses net so akkuraat soos dié van ’n dokter is, en dat dit veilig en eties gebruik kan word. Niemand hoef gespesialiseerde opleiding te hê om dit te gebruik nie – pasiënte gesels in hul moedertaal met die program, en hul verpleegster of dokter doen die res.

“Wanneer ’n pasiënt by die kliniek aankom, word hulle deur Prime verwelkom – ’n digitale assistent wat ‘vrae vra’ oor hul simptome, vorige siektes en medikasie. Die stelsel gebruik kunsmatige intelligensie wat gegrond is op mediese handboeke, Suid-Afrikaanse riglyne en duisende mediese gevalle. 

Arts, verpleër bly in beheer

“Prime help dan om waarskynlike diagnoses voor te stel, waarskuwings te rig oor enige moontlike noodtoestande, en ondersoeke en behandelings aan te beveel ingevolge plaaslike riglyne.”

Van der Merwe benadruk die dokter of verpleegkundige bly in beheer – hulle gaan Prime se voorstelle na en besluit wat om te doen. “Dit is nie ’n plaasvervanger vir dokters nie, maar ’n hulpmiddel wat hul werk vinniger en meer akkuraat maak, veral in besige klinieke waar tyd en personeel beperk is.”

Dié oud-Nelspruiter het reeds op hoërskool gewys hoe kreatief sy dink toe sy die prys by Eskom se Innovation Expo gewen het as algehele en beste vroulike wetenskaplike innoveerder, asook die Round Square-toekenning vir die grootste impak in haar gemeenskap. Sy het meer as 300 gemeenskapsdiensure voltooi en geld vir blindes ingesamel.

‘Ek wil graag ’n verskil maak in mense se lewens’

Ná haar mediese studies aan die Universiteit van Pretoria het sy haar internskap as hoofintern by die Klerksdorp Tshepong-hospitaal voltooi. Sy het waardevolle ervaring opgedoen, en later ook tydens haar gemeenskapsdiens in ’n Vrystaatse distrikshospitaal.

“Ek het by die distrikshospitaal vir die eerste keer regtig gesien hoe groot die behoefte aan kundigheid in landelike gebiede is. Dit het my dryfveer geword om gesondheidsorg vir mense te verbeter.

“Liefde vir mense en vir die wetenskap het my in hierdie rigting gestuur. Ek wil graag ’n verskil maak in mense se lewens, en hoop van harte ons kry dit reg met Prime.”

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Susan Maré mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.