Central SA
Bothaville-man kry 23 jaar tronkstraf vir moord op eks─── 13:00 Thu, 16 Oct 2025

’n Man van Bothaville gaan lank tronk toe nadat die hooggeregshof in Welkom hom skuldig bevind het aan die wrede moord op sy eksmeisie.
Abel Khidi Stheiso (36) is Dinsdag (14/10) gevonnis tot 23 jaar gevangenisstraf vir die noodlottige aanval op Mantja Liesbeth Skosana (31) Saterdag 1 Maart omstreeks 12:05 in ’n informele nedersetting in Khotsong. Die veroordeelde het die slagoffer se woning besoek, waar sy saam met hul drie kinders gewoon het, volgens ooggetuies.
“Met sy aankoms by die huis het die beskuldigde en die slagoffer strygekry. Die beskuldigde het ’n mes uitgehaal en die slagoffer… agt keer noodlottig gesteek,” sê sers. Palesa Thabana, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
’n Moordsaak is onmiddellik geregistreer, en die polisie het beslag gelê op die moordwapen.
Die beskuldigde het hom in Bothaville se polisiekantoor oorgegee. Photo: SAPS
Die beskuldigde het homself later daardie dag in Bothaville se polisiekantoor oorgegee, nadat die polisie hom nie op die misdaadtoneel kon opspoor nie.
Optredes vir feestydveiligheid
Intussen, met dié dat die feestyd vinnig naderkom en daarmee saam ’n voorspelbare toename in inkopies, waarsku die polisie in die Noord-Kaap inwoners moet waaksaam wees.
Ondernemings en kleinhandelaars word dringend versoek om hul waaksaamheid en sekerkheidsmaatreëls op te skerp in afwagting op die toename in diefstal. Hulle moedig winkels aan om onder meer die volgende in te stel:
- Die elektroniese etikettering van handelsware, waar moontlik.
- ’n Omvattende kringtelevisiestelsel.
- Spesiale aandag aan aantrekkamers, wat gebruik kan word om gesteelde ware te versteek.
Daarbenewens werk die regering aan ’n plan om die verhoogde gevaar van misdaad dié somervakansie hok te slaan.
Wessels Morweng, Noordwes-LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur, en genl.maj. Patrick Asaneng, waarnemende provinsiale kommissaris, sal die bekendstelling lei van die provinsie se veiligerfeestyd-operasies, wat duur van 1 Oktober tot 31 Januarie, in samewerking met Operasie Shanela.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.