On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bedrogsaak: Vrystater ná maande in Oos-Kaap gevind, vermiste vrou opgespoor

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:15 Thu, 16 Oct 2025

Bedrogsaak: Vrystater ná maande in Oos-Kaap gevind, vermiste vrou opgespoor | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Vrystater, wat van bedrog verdink word, verskyn Vrydag (17/10) in die hof in Welkom nadat hy opgespoor is byna vyf maande ná hy spoorloos verdwyn het.

Die verdagte (28) kom na verwagting Vrydag (17/10) in Welkom se landdroshof voor op ’n aanklag van bedrog, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder. “Die verdagte het na bewering op 27 Mei ongeveer R99 000 van sy werkgewer, ’n plaaslike onderneming in Welkom, gesteel.”

’n Bedrogklag is by die Welkomse polisiekantoor aanhangig gemaak. Nadat hy maande lank die polisie ontduik het, is die verdagte Maandag op die dorpie Hamburg in die Oos-Kaap aangekeer toe beamptes inligting opgevolg het oor waar hy hom bevind het.

Dieselfde dag is Anuschka Janine Saunders (32) van Welkom ook ná vyf maande op Hamburg opgespoor.

Vermiste Welkom-vrou ná vyf maande in Oos-Kaap gevind  | News Article

Anuschka Janine Saunders is Maandag op Hamburg in die Oos-Kaap opgespoor. Foto verskaf

’n Vrou, wat haar herken het op grond van ’n vroeëre berig oor die soektog na Saunders, het OFM Nuus gebel. Die inbeller, wat anoniem wil bly, sê sy het Saunders herken en die berig vir haar werkgewer gewys, die eienaar van die restaurant waar Saunders werk. Die werkgewer het later bevestig dit was inderdaad sy.

Monika Ras, Saunders se ma, bevestig haar dogter is gevind en hulle het gepraat. Haar dogter sê “alles het te veel geword” vir haar en sy het tyd op haar eie nodig gehad. Daarom het sy haar uit die voete gemaak.

“As ouer, of jou kind nou ’n baba, ’n kleuter, ’n tiener of ’n volwassene is, het altyd daardie vrees dat iets met hulle sal gebeur. Vir ons was dit ’n groot terugslag, en ons het almal soveel deurgemaak gedurende die tyd wat Anuschka vermis was.”

‘Is sy aangeval, ontvoer of vermoor – (lê sy) êrens dood?’

Die moeilikste was om haar dogter as vermis aan te meld. “Soos die dae sonder enige kontak verbygegaan het, het soveel gedagtes by ons opgekom. Is sy aangeval, ontvoer of vermoor – (lê sy) êrens dood?”

Dit was “slegs die genade van God” en die hoop om haar dogter te vind, ongeag die omstandighede, wat hulle aan die gang gehou het.

“Ek dink aan families wat nooit hul geliefdes vind nie, of erger. Dit voel asof jou hart uitgeruk word, en jou lewe kom op daardie oomblik tot stilstand. Jy beweeg minuut vir minuut vorentoe, wetende jou kind is êrens daar buite en jy het geen idee of sy veilig is of nie.

Gevul met dankbaarheid

“Vir ons as ouers, haar twee klein kindertjies, grootouers, broers en susters, familie, vriende en kennisse, was die nuus wat ons ontvang het emosioneel en oorweldigend, maar ons is ook gevul met dankbaarheid.

“Daar is steeds baie onbeantwoorde vrae, en ongelukkig baie negatiewe mense, wat hul menings het sonder om empatie of blydskap te toon omdat sy veilig is.” Vir hulle wil sy sê: “Wat sou julle (gesê het) as dit julle kind was?”

Sy bedank almal wat moeite gedoen, opofferings gemaak en ondersteuning gebied het, want daarsonder sou haar dogter waarskynlik nie so gou gevind gewees  het nie. “Daar is steeds goeie mense in hierdie wêreld wat werklik omgee.”

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.