Central SA
Klerksdorper weer in November voor ná meisie se eks geslaan is─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:23 Thu, 16 Oct 2025

’n Man van wat aangekla word van poging tot moord nadat hy na bewering sy meisie se ekskêrel aangerand het, sal weer op 3 November in die hof verskyn.
Braam Rees van der Westhuizen (25) het op 25 September in die Klerksdorp-landdroshof verskyn, waar sy saak uitgestel is vir verdere ondersoek, sê Sivenathi Gunya, NVG-woordvoerder. Hy word daarvan beskuldig dat hy Michael Deysel (26) van Klerksdorp op 17 Mei aangerand het, wat Deysel in ’n kritieke toestand in die hospitaal laat beland het.
Hy is met breinbloeding in die Tshepong- Tersiêre Staatshospitaal opgeneem, maar is later ontslaan.
Michael Deysel (26) het in ’n kritieke toestand in die hospitaal beland nadat hy op 17 Mei aangerand is. Foto verskaf
Deysel sê Donderdag (16/10) aan OFM Nuus “dit gaan goed onder die omstandighede”. “Ek sukkel steeds af en toe met pyn in my liggaam en moet die hospitaal en dokters steeds gereeld besoek vir toetse en opvolgondersoeke.”
Sy eksmeisie, wat swanger was met hul kind ten tyde van die beweerde aanranding, het sedertdien geboorte gegee. Deysel bevestig sy babadogtertjie word op 22 Oktober ’n maand oud.
Van der Westhuizen het hom op 30 Mei aan die polisie oorgegee nadat ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.