Central SA
NAMPO Alfa bring boer, buitelewe en vermaak saam onder één dak─── 11:22 Fri, 17 Oct 2025

Dag twee van NAMPO Alfa 2025 was Donderdag druk besig met besoekers wat na NAMPO Park gestroom het vir ’n fees van landbou, leefstyl en buitelewe.
Volgens Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO by Graan SA, is die atmosfeer opwindend. “Die eerste dag fokus ons gewoonlik op werkswinkels en tegniese gesprekke in die bedryf, maar teen dag twee begin die publiek invloei. Saterdag is natuurlik die groot dag – almal wíl NAMPO Alfa toe kom.”
Strydom meen die sukses van NAMPO Alfa lê in die unieke kombinasie van landbou en buitelewe.
“Lewende hawe is sinoniem met jag, visvang en die buitelewe. Dis wat dit so goed maak – alles is hier. Van motorfietse tot kamptoerusting – enigiets wat jou hart vinniger laat klop.”
Vir Graan SA is die geleentheid meer as net ’n uitstalruimte. “Landbou gaan oor die hele waardeketting. As jy ’n graanboer is, is jy dikwels ook ’n veeboer. Hierdie platform bring daardie wêreld bymekaar. Boerdery is intens en stresvol – dis belangrik dat produsente ook kan ontspan. Hier kan jy letterlik alles kry: Van woonwaens tot jagtoerusting.”
Strydom sê vanjaar se byeenkoms lok ook ’n groot aantal jongmense. “Ons het verskeie vaardigheidskompetisies vir skole van regoor die land – van die Agriculture Skills Challenge tot skietkompetisies op ons 400 m-baan. Dis wonderlik om die jeug hier te sien.
“Hier word oorvloedig geëet en gekuier. Vanaand (Donderdagaand) word die Lamb Champs-kompetisie beslis, waar die beste skaapspitvleis gekies word. Besoekers kan die wenners ontmoet en saam feesvier – dis regtig ’n hoogtepunt.”
Strydom bedank ook OFM vir hul samewerking. “Baie produsente luister na OFM in hul trekkers en stropers. Dis ’n voorreg om die klank van hul lewe as deel van hierdie geleentheid te hê.”
Met meer as 200 uitstallers, uiteenlopende vertonings en regstreekse musiek, bly NAMPO Alfa die enigste landwye gebeurtenis waar landbou, buitelewe en leefstyl onder een dak saamkom. “Ons droom is om dit jaar ná jaar te laat groei. Gee die mense wat hulle wil hê – dis presies wat NAMPO Alfa doen.”