Central SA
Kuruman-plaasmoord: Verdagtes se borgtogaansoek eers later oor vol hofrol─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:41 Mon, 20 Oct 2025

Weens ’n oorvol hofrol sal die borgtogaansoek van die beskuldigdes in die moord op ’n Noord-Kaapse boer nou eers Woensdag 29 Oktober aangehoor word.
Potso Bogodile (21), Jan Tata (18), Orabile Vincent Motsewakgosi (24) en Kabelo Tata (26) het Vrydag (17/10) in Kuruman se landdroshof verskyn vir die voortsetting van hul borgtogaansoek.
Die vier word daarvan beskuldig hulle het die veeboer Hendrik Venter (81) van Kuruman in September verlede jaar op sy plaas vermoor.
Hoewel die borgtogaansoek, wat Vrydag weens die oorvol hofrol nie voortgesit kon word nie, in die landdroshof aangehoor word, sal die verhoor in die rondgaande hooggeregshof op Kathu plaasvind.
Liggaam langs hek
Venter het na bewering een oggend omstreeks 08:30 Kameelaar, die plaas waar hy gewoon het, verlaat om ’n ander plaas te besoek. ’n Buurman het omstreeks 09:45 langs sy voertuig by die hek van die eiendom op sy liggaam afgekom.
Met die verdagtes se hofverskyning op 8 Augustus het die verdediging beswaar gemaak teen die wyse waarop hulle voor die hof gebring is en aangevoer hul arrestasies was onwettig.
Die hof het egter die besware van die hand gewys. “Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het sedertdien aangedui hulle is van voorneme om teen die uitspraak te appelleer,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se Karoo-distrikskoördineerder.
‘Hierdie ontwikkeling toon die staat erken die erns van hierdie misdaad’
“Hierdie ontwikkeling toon die staat erken die erns van hierdie misdaad deur dit na ’n hoër hof te verwys. Ek is optimisties indien skuldig bevind, sal hierdie verwysing tot ’n strenger vonnis lei.”
Die beskuldigdes is aanvanklik vrygelaat, en die saak is op 10 April voorlopig van die rol geskrap weens ’n gebrekkige polisiedossier en swak ondersoekwerk. Ná volgehoue druk van AfriForum en die DA is die verdagtes op 29 Julie weer in hegtenis geneem.
Willie Aucamp, DA-LP en woordvoerder vir die familie, sê sy party sal al die hofverrigtinge bywoon om te verseker die regsprosesse word behoorlik gevolg.
Hendrik Venter is in September 2024 dood aangetref by die hek van sy plaas. Foto: Facebook
Thomas van Dalen, Noord-Kaapse streekhoof van AfriForum, voeg by: “Dit is onaanvaarbaar dat die moordverdagtes vrygelaat is weens administratiewe foute en die staat se onvoorbereidheid.” Die saak wat eers herleef het ná volgehoue druk van AfriForum en die gemeenskap is ’n ernstige aanklag teen die stelsel.
Van Dalen verwelkom die onlangse vordering ten spyte van vorige terugslae. “Ons is bly die staat het nou sy verantwoordelikheid nagekom.” Dit is bemoedigend om te sien dat geregtigheid vorder.
“Ons sal nie stilbly totdat dit ten volle bereik is nie. Hierdie saak moet ’n maatstaf stel vir hoe die staat plaasmoorde hanteer.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.