Central SA
Gesoekte, wat saam met vermiste vrou gevind is, voor weens bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:44 Tue, 21 Oct 2025

’n Welkomse man wat vermis was en gesoek is weens bedrog, sal weer op 12 November 2025 in die hof verskyn nadat sy saak vir verdere ondersoek uitgestel is.
Donovan Saunders (28) het Maandag (20/10) in die Welkom-landdroshof op ’n aanklag van diefstal verskyn, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder. Saunders is vroeër vandeesmaand in Hamburg in die Oos-Kaap in hegtenis geneem, vyf maande nadat hy spoorloos verdwyn het.
Hy het na bewering op 27 Mei ongeveer R99 000 van sy werkgewer, ’n plaaslike onderneming in Welkom, gesteel. OFM Nuus kan bevestig dat Saunders die man is wat saam met die vermiste Anuschka Janine Saunders (32) gevind is.
Anuschka Saunders. Foto verskaf
Nadat OFM Nuus ’n berig gepubliseer het oor Anuschka, wat vir vyf maande vermis was, het ’n vrou na vore gekom wat haar herken het. Die inbeller, wat anoniem wou bly, het Anuschka herken en die berig aan haar werkgewer – die eienaar van die restaurant waar Anuschka werk – gewys.
Die werkgewer het later bevestig dat dit inderdaad sy was.
Volgens Monika Ras, Anuschka se ma, het haar dogter glo gesê dat “alles te veel geword het” vir haar en dat sy tyd op haar eie nodig gehad het. Daarom het sy die huis verlaat.
‘Is sy aangeval, ontvoer of vermoor – is sy êrens dood’
“As ouer, of jou kind nou ’n baba, ’n kleuter, ’n tiener of ’n volwassene is, het jy altyd daardie vrees dat iets met hulle sal gebeur. Vir ons was dit ’n groot terugslag, en ons het almal soveel deurgemaak gedurende die tyd wat Anuschka vermis was.”
Ras het die moeilikste deel beskryf as om haar dogter as vermis aan te meld. “Soos die dae sonder enige kontak verbygegaan het, het soveel gedagtes by ons opgekom. Is sy aangeval, ontvoer of vermoor – is sy êrens dood?”
Sy het gesê dit was “slegs die genade van God” en die hoop om haar dogter te vind, ongeag die omstandighede, wat hulle aan die gang gehou het. Vir ons as ouers, haar twee klein kindertjies, grootouers, broers en susters, familie, vriende en kennisse, was die nuus wat ons ontvang het emosioneel en oorweldigend, maar ons is ook gevul met dankbaarheid.
Onbeantwoorde vrae
“Daar is steeds baie onbeantwoorde vrae, en ongelukkig baie negatiewe mense wat hul menings het sonder om empatie of vreugde te toon dat sy veilig is.” Vir hulle sê sy: “Wat sou julle gesê het as dit julle kind was?”
Sy het almal bedank wat moeite gedoen het, opofferings gemaak het en ondersteuning gebied het, en gesê dat haar dogter waarskynlik nie so vinnig gevind sou gewees het sonder hulle nie.
“Daar is steeds goeie mense in hierdie wêreld wat werklik omgee.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.