Central SA
Vyf dae later soek polisie steeds na drenkeling in groef agter Twin City Mall─── ZENANDE MPAME 13:55 Tue, 21 Oct 2025

Die polisie soek steeds na die liggaam van ’n man (20) vyf dae nadat hy in die Witherow-gruisgroef agter Twin City Mall in Heidedal verdrink het.
Benjamin van Wyk (20) en twee vriende het Donderdag (16/10) die groef besoek om te swem. Hy het na bewering in die water gespring, is vinnig oorweldig en het verdrink. Sy liggaam het onder die water verdwyn en kon nog nie opgespoor word nie.
Die voorval kom te midde van toenemende oproepe om strenger veiligheidsmaatreëls en bewusmakingsveldtogte om nog lewensverlies te voorkom op dié berugte terrein, wat reeds lank ’n gevaarlike swemgebied is.
Dit is nie die eerste lewe wat dié groef eis nie. Inwoners het voorheen al daarop aangedring dat die gruisgroef veiliger gemaak word, veral nadat die eerste verdrinkings in 2016 aangemeld is.
“Die polisie werk nou saam met die nooddienste en private vennote om die herwinningspogings te verskerp,” sê Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Spesialistoerusting en -duikers is ontplooi om die dieper dele te bereik in die hoop om afsluiting vir die treurende familie te bring.
“Vrydag het duikers tot ongeveer 12:00 gewerk, toe vasgestel is dat die liggaam moontlik deur strome weggevoer is of tot in ’n dieper deel van die groef gerol het, wat na raming sowat 50 m diep is.
“Alle beskikbare hulpbronne word gebruik om sy liggaam terug te kry om vir die familie afsluiting te help bring. Nadat sy liggaam herwin is, sal ’n nadoodse ondersoek uitgevoer word om die oorsaak van die dood te bepaal.”
Kareli waarsku opnuut hoe gevaarlik die groef is. “Die polisie vra inwoner moenie in die groef swem nie. Die water is gevaarlik diep en hou lewensgevaar in.”
Die DA eis intussen onmiddellike ingryping om nog verdrinkings te voorkom omdat inwoners noodgedwonge in die steengroef swem omdat die openbare swembad gesluit is. Die party onderneem om aan die munisipale bestuurder, Sello More, te skryf om hom te vra om dringend te verseker dat die Heidedal-swembad beveilig, skoongemaak en heropen word.
Die party sê hy sal ook ’n formele versoek op die volgende raadsitting indien om die munisipaliteit te verplig om ’n dringende skoonmaak- en instandhoudingsprojek vir die Heidedal-swembad van stapel te stuur.
Die Heidedal-swembad. Foto verskaf
Die toegangsgeld vir inwoners moet hersien en verlaag en ’n subsidieplan ingestel word om bekostigbare toegang tot ontspanningsgeriewe te verseker. Voorts moet genoeg menseredders ontplooi word. Genoeg swembadchemikalieë moet ook verskaf word.
“Die sluiting van die swembad ontneem nie net inwoners ’n veilige ontspanningsruimte nie, maar stel ook lewens in gevaar,” sê DA-raadslid Attie Terblanche. Die Heidedal-swembad is steeds gesluit, ondanks die beplande heropening op 1 September.
“Die instelling is in ’n skokkende toestand, die water is groen en vuil, die terrein is oorgroei van lang gras en daar is geen swembadchemikalieë of menseredders beskikbaar nie. Inwoners is ook besorg oor die onbetaalbare toegangsgeld: R21 per kind en R34 per volwassene.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.