Central SA
Minister swyg steeds oor beweerde heksejag by Bloemfonteinse skool, sê VF Plus─── 14:23 Tue, 21 Oct 2025

’n Groep onderwysers van die Dr. Böhmer-skool in Bloemfontein beweer hul loopbane is vernietig nadat hulle die fluitjie geblaas het oor beweerde finansiële wanbestuur by die instelling – en hul pogings om dit te laat ondersoek is vrugteloos.
Die onderwysers sê hulle is sonder bewyse van rassisme en seksuele teistering beskuldig, wat tot hul skorsing en ernstige skade aan hul professionele reputasie gelei het. Hulle probeer al jare lank om die saak deur die Vrystaatse onderwysdepartement te laat ondersoek, maar sonder sukses.
Die VF Plus het die saak na die parlement verwys in ’n poging om nasionale ingryping te verseker, sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir onderwys, in ’n mediaverklaring. Nie veel het egter nog gebeur nie en die VF Plus beplan om vandeesweek weer ’n skriftelike vraag aan die minister te rig in die hoop om formele terugvoering te ontvang.
Dr. Wynand Boshoff. Foto: X
Op 5 Mei vanjaar het die party die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, deur haar persoonlike assistent genader. ’n Skriftelike vraag is op 20 Mei ingedien, waarop die minister op 24 Mei geantwoord het sy was nie van die situasie bewus nie, maar het intussen korrespondensie met die provinsiale departement daaroor gevoer.
Gwarube het toe beloof om die VF Plus op hoogte te hou van enige ontwikkelings en gesê haar kantoor het reëlings getref vir ’n vergadering. Sy het ook beklemtoon rassisme en seksuele teistering in skole is onaanvaarbaar.
Die VF Plus deel hierdie standpunt, sê Boshoff. Die party het egter gewaarsku valse aantygings kan net soveel skade aanrig en moet dus ernstig opgeneem word.
Saak formeel verwys
Op 9 Julie het die minister se assistent weer kontak gemaak en verdere besonderhede versoek, en die VF Plus genooi om die saak te eniger tyd op te volg. Op 13 Augustus is die party ingelig die saak is formeel vir ondersoek verwys.
“Sedertdien het die VF Plus geen verdere inligting ontvang nie en die party se pogings om kontak te maak, is onsuksesvol. Whatsapp-boodskappe en telefoonoproepe bly eenvoudig onbeantwoord.”
Die party is nie in ’n posisie om die meriete van die saak te beoordeel nie, maar die minister se voortdurende stilswye wek kommer, sê Boshoff.
Die skade wat die betrokkenes reeds gely het, is onherstelbaar
“Die skade wat die betrokkenes reeds gely het, is onherstelbaar. Die minste waarop hulle kan aandring, is ’n formele ondersoek wat aandui of hulle aan enigiets skuldig is.”
Luidens berigte het verskeie ouers en oudpersoneellede ook hul kommer uitgespreek oor die hantering van interne klagtes by die skool, wat verdere druk op die departement plaas om deursigtige optrede te verseker.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
OFM Nuus cvs