On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Veroordeelde prokureur nie by Welkom-hof ‘oor misverstand’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:14 Wed, 22 Oct 2025

Veroordeelde prokureur nie by Welkom-hof ‘oor misverstand’ | News Article
Jan Gysbert Maritz in die Vrystaatse hooggeregshof. Foto: Charne van der Merwe

’n Veroordeelde Welkomse prokureur wat Dinsdag (21/10) in die hof sou verskyn op aanklagte van bedrog, het nie opgedaag nie ná ’n skynbare misverstand oor sy vervoer uit die Bloemfonteinse tronk.

Die polisie was glo onder die indruk die departement van korrektiewe dienste sou Jan Gysbert Maritz (57) na die Welkomse landdroshof toe bring, wat daartoe gelei het dat hy nie verskyn het nie. Hy dien tans drie lewenslange vonnisse in Bloemfontein uit vir veelvuldige seksuele oortredings waarby minderjariges betrokke was.

Hy is Vrydag (17/10) in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat hy in Mei 2021 skuldig bevind is aan 16 aanklagte wat verband hou met die seksuele misbruik van minderjariges tussen 2007 en 2014 in Virginia, Odendaalsrus en Welkom.

Die bedrogsaak teen Maritz is vir twee dae geskeduleer vir ’n borgtogaansoek, en hy sou Dinsdag (22/10) weer in die hof verskyn.

Maritz, ’n voormalige prokureur vir die Matjhabeng Munisipaliteit in Welkom, is Vrydag 10 Oktober in hegtenis geneem in verband met die bedrogsaak. 

Hy het glo die plaaslike owerheid uit R15 miljoen bedrieg deur fondse van ’n regsaak na die bankrekening van sy beslote korporasie, Major Issues 314, oor te plaas, pleks daarvan om dit aan die regmatige maatskappy, Orxy Trading, te betaal.

Hy staan nou tereg op vier aanklagte, insluitend van bedrog, vervalsing en geldwassery.

Naam op seksregister

Met sy vonnisoplegging vir die seksuele oortredings het regter Soma Naidoo gelas dat Maritz se naam in die register vir seksoortreders aangeteken word en hom permanent verbied om met kinders te werk.

Die staatsaanklaer adv. Amanda Bester het aangevoer Maritz verdien lewenslange tronkstraf weens die erns van sy misdade en die diep trauma wat sy slagoffers ervaar het. Naidoo het saamgestem en gesê Maritz het sy gesagsposisie en finansiële invloed misbruik om kwesbare minderjariges te manipuleer.

Maritz se regsverteenwoordiger, Coenie Pieterse, het om toegeeflikheid gepleit en na sy persoonlike ontbering en gemeenskapsbetrokkenheid verwys. Naidoo het dit verwerp en gesê sy gesondheid het hom nie verhinder om ’n normale lewe te lei nie.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuuslyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.