On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Kans vir natuurliefhebbers om deel te neem aan BioBlitz

───   10:11 Wed, 22 Oct 2025

Kans vir natuurliefhebbers om deel te neem aan BioBlitz | News Article
Digte stande van die berg- of slangaalwyn (aloe broomii) wat verlede week by Colesberg waargeneem is. Foto: Ricus Nel

Van Vrydag tot Maandag gaan duisende natuurliefhebbers en amateurwetenskaplikes regoor die Suidelike Halfrond hul omgewings verken om die ongelooflike biodiversiteit om hulle te dokumenteer as deel van die jaarlikse Great Southern BioBlitz (GSB).

Ook die Vrystaat-tak van die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika (Botsoc) neem deel aan dié internasionale veldtog wat die rykdom van plaaslike natuurlewe aan die wêreld bekend stel. Die BioBlitz word aangebied deur ’n wêreldwye netwerk van geesdriftige vrywilligers en wetenskaplikes, en bied aan almal die geleentheid om waarnemings van fauna en flora op te laai via die iNaturalist-platform. 

Elke waarneming – van ’n voël in jou tuin tot ’n skaars plant in die veld – dra by tot internasionale databasisse wat navorsing oor klimaatverandering, bewaring en ekologiese patrone ondersteun.

Pragtige vuurpyle (Kniphofia ensifolia) is die afgelope tyd in die Vrystaat waargeneem, soos dié buite Jagersfontein. Foto: Deon Potgieter

Enigiemand wêreldwyd kan deelneem, mits waarnemings gedurende die amptelike tydperk, vanjaar van 24 tot 27 Oktober, iewers in die Suidelike Halfrond gemaak word. Deelnemers wat registreer, ontvang gereelde opdaterings en kwalifiseer vir ’n sertifikaat van deelname.

Na afloop van die vierdaagse veldtog kry deelnemers nog 14 dae om hul waarnemings op iNaturalist op te laai en te identifiseer. Die Vrystaattak van Botsoc reël ’n geleentheid Saterdagmiddag (25/10) om 15:00 om saam te “bioblitz” in die Brandkop-bewaringsgebied. 

Deelnemers kry mekaar aan die einde van Volkspelelaan, Pellissier, by die westelike ingang van die bewaringsgebied – net voor die pad opdraai na die Vaal-Sentrale Waterraad se kantore.


Daar is geen koste verbonde aan deelname nie. “Bring jou kamera of selfoonkamera, stapskoene en ’n bottel water saam. Dit is ideaal vir ’n gesinsuitstappie – die enigste vereistes is dat jy kan stap en jou kamera kan gebruik!” sê Deon Potgieter, voorsitter van die tak. 

“Ons sal die iNaturalist-internetplatform verduidelik en help om jou foto’s op te laai.”

Belangstellendes word gevra om voor Saterdag per e-pos of WhatsApp te laat weet as hulle wil kom, sodat die vereniging ’n idee het van hoeveel mense om te verwag. Vir meer inligting oor die GSB, besoek die webwerf greatsouthernbioblitz.org.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.