On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse kleuter vaar goed ná bestralingsterapie

───   ZENANDE MPAME 10:38 Wed, 22 Oct 2025

Bloemfonteinse kleuter vaar goed ná bestralingsterapie | News Article
Kaden de Jongh vaar goed ná sy bestralingsterapie. Foto verskaf

Dokters gaan ’n vierjarige kleuter van Bloemfontein wat tans bestralingsterapie in die Universitas- akademiese hospitaal ondergaan, oor die volgende drie maande noukeurig dophou.

Nog ’n CT-skandering sal daarna geskeduleer word om Kaden de Jongh se vordering te evalueer. Onlangse skanderings toon die gewas in sy brein het verklein.

’n Breinstamglioom is in Augustus by Kaden gediagnoseer, nadat ’n breinskandering bevestig het ’n gewas kom in sy brein voor. Breinstamgliome ontwikkel in die breinstam, wat die basis van die brein met die rugmurg verbind, net bokant die holte van die nek.

Die simptome hang af van die presiese ligging van die gewas, maar sluit gewoonlik in hoofpyne, ’n gedeeltelike verlies aan beheer oor liggaamsbewegings, probleme met gesigsenuwees, ’n gesukkel om te kou of te sluk, onduidelike spraak en soms naarheid of braking.

Kaden het in September met sy eerste behandelingsessies begin en het sedert sy diagnose reeds 13 sessies ondergaan. “Dit het regtig goed met die bestraling gegaan; Kaden het baie positief gereageer en was net een keer naar tydens die behandeling,” vertel sy ma, Anandi.

“Hy vaar tans baie goed, al is sy been nog nie heeltemal reg nie. Ten spyte daarvan verbeter hy elke dag. Sy haartjies het aan die kante begin uitval, so nou lyk dit of hy ’n mullet het – nogal modieus, as jy my vra!

“Ons het Dinsdag (21/10) ’n CT-skandering gedoen, en gelukkig wys dit dat die gewas kleiner is. Die dokter het aanbeveel dat ons hom vir nog drie maande dophou, met nog ’n skandering daarna.


“Ons stuur die jongste skandering ook aan die dokter in Indië met wie ons vroeër kontak gehad het – hy spesialiseer in protonterapie en geteikende behandeling.”

Oor die algemeen gaan dit goed met Kaden. As gesin is hulle innig dankbaar vir elke gebed en alle ondersteuning. “Hy was regtig ’n ware kampioen,” sê sy ma.

Die gesin samel geld in vir protonterapie, ’n gevorderde vorm van bestralingsterapie wat die gewas presies kan teiken en omliggende, gesonde breinweefsel kan spaar. Hierdie behandeling is slegs in lande soos die VSA, die VK, Australië, Indië, Turkye en Singapoer beskikbaar, en kos meer as R3,5 miljoen in die VSA.

Die gesin het reeds met klinieke in die buiteland kontak gemaak vir kwotasies, en vra die gemeenskap moet asseblief help met donasies en gebede.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Zenande Mpame cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.