On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Jagersfonteinramp: Saak uitgestel tot Januarie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:20 Thu, 23 Oct 2025

Jagersfonteinramp: Saak uitgestel tot Januarie | News Article
Die beskuldigdes moet weer in Januarie verskyn. Foto: Charne van der Merwe

Die saak teen vyf mans en verskeie maatskappye wat verband hou met die Jagersfontein-slikdamramp in September 2022, is uitgestel tot 14 Januarie.

Die saak is Woensdag (22/10) in Jagersfontein se landdroshof uitgestel om die verdediging meer tyd te gun om die uitgebreide dokumentasie in die saak na te gaan. Die verhoor sal dan na verwagting oorgeplaas word na die hooggeregshof in Bloemfontein vir ’n voorlopige verhoor.

Marius de Villiers (62), Petrus Johannes Combrink (60), Petrus Jacobus Oosthuizen (60), Gert Abraham Coetzee (34) en Jan Homes Viljoen (45) staan saam met Jagersfontein Developments en verskeie maatskappye tereg op 13 aanklagte. 

Dit sluit in drie van moord, asook klagte van omgewingsbesoedeling en oortredings van damveiligheidsregulasies kragtens die Strafregwysigingswet.


Die hof was Woensdag vol gemeenskaplede. Foto: Charne van der Merwe

Die aanklagte spruit uit die ineenstorting van die Jagersfontein-slikdam in September 2022, wat gelei het tot wydverspreide verwoesting in die nedersettings Charlesville en Itumeleng. 

Die ramp het ongeveer 186 inwoners dakloos gelaat en ernstige skade aan landbougrond veroorsaak. Een boer het na bewering 90% van sy skape verloor, volgens die Bench-Marks-stigting.

Benewens die moordklagte hou die ander aanklagte verband met:
 • beduidende omgewingsbesoedeling;
 • versuim om aan watergebruiklisensievoorwaardes te voldoen;
 • die verskaffing van valse of onvolledige inligting;
 • die belemmering van amptenare van die departement van water en sanitasie (DWS) om hul pligte uit te voer;
 • die versuim om DWS-riglyne na te kom;
 • die versuim om ’n dam met veiligheidsrisiko’s te registreer;
 • ongemagtigde veranderinge aan ’n dam met veiligheidsrisiko’s;
 • die versuim om ’n professionele span vir damontwerp aan te stel;
 • die versuim om aan kategorie III-dammonitering en -verslagdoening te voldoen;
 • die versuim om aan kategorie III-damveiligheidsvereistes te voldoen;
 • die oortreding van Artikel 9 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid, Wet 85 van 1993; en
 • kwaadwillige saakbeskadiging (121 aanklagte).

Liggaam nooit gevind

Die beskuldigdes word daarvan aangekla dat hulle die dood van Kozkor Shadrach Williams, Ralehana Aaron Moseu en Msokoti Petrus Khuthu veroorsaak het. Khuthu se liggaam is nooit gevind nie.

Die staat beweer die damwal het meegegee weens die oorskryding van watergebruikslisensieperke, die versuim om DWS-riglyne na te kom en die indiening van stabiliteitsverslae wat benede peil was.

Die Vrystaatse DA-leier, dr. Roy Jankielsohn, het voorheen gesê die tragedie kon vermy gewees het. “Mense is lank gelede gewaarsku oor die risiko’s, maar daardie waarskuwings is geïgnoreer,” het hy gesê. 

Die beskuldiges Woensdag in die hof. Foto: Charne van der Merwe

“Die Jagersfontein-slykdamramp het enorme skade en lewensverlies veroorsaak. Diegene wat verantwoordelik is, moet aanspreeklik gehou word.”

Die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing het 'n omvattende ondersoek gedoen, waarna die NVG besluit het om te vervolg. Die vervolging word gelei deur adv. Johan Roothman.

Adv. Barry Roux tree op namens De Villiers, Combrink en Jagersfontein Development, Adriaan Janse van Rensburg verteenwoordig Oosthuizen, Coetzee en MVD Kalahari Consulting Engineers and Town Planners, en adv. Allen Simpson verskyn vir Viljoen. Adv. Mannie Witz verteenwoordig SRK Consulting (Suid-Afrika).

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.
 OFM Nuus/Charné van der Merwe
 cvs


 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.