Central SA
Welkom-prokureur Dinsdag weer in hof vir borgtogaansoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:41 Thu, 23 Oct 2025

Die borgtogaansoek van ’n veroordeelde prokureur van Welkom is uitgestel tot Dinsdag (28/10) en Woensdag ná ’n misverstand oor sy vervoer vanaf die tronk.
Jan Gysbert Maritz (57) sou Woensdag (22/10) in die Welkomse landdroshof voorgekom het op aanklagte van bedrog, maar het nie opgedaag nie. Na bewering was daar verwarring tussen die polisie en korrektiewe dienste oor wie verantwoordelik was om hom Dinsdag van ’n Bloemfonteinse gevangenis te bring.
Hy sou wel Donderdag voorkom, nie vir die borgtogaansoek nie, maar om te verseker hy word na die Odendaalsrus-gevangenis oorgeplaas, sodat hy aangehou word nader aan waar sy bedrogverhoor plaasvind.
Maritz gaan aansoek doen om borgtog teen die agtergrond van moontlike verlof tot appèl teen sy vroeëre vonnis tot lewenslange gevangenisstraf. Hy kan op borgtog vrygelaat word hangende die appèlaansoek.
Geld na eie BK herlei
Hy dien tans drie lewenslange vonnisse uit vir verskeie seksuele oortredings met minderjariges.
Maritz, ’n voormalige prokureur vir die Matjhabeng-munisipaliteit, is vroeër vandeesmaand ook in hegtenis geneem in verband met beweerde bedrog van R15 miljoen.
Hy word daarvan beskuldig hy het geld van ’n regsaak na die bankrekening van sy beslote korporasie, Major Issues 314, herlei pleks daarvan om die geld aan die regmatige maatskappy, Orxy Trading, oor te betaal. Hy staan tereg op vier aanklagte, insluitend bedrog, vervalsing en geldwassery.
Jan Gysbert Maritz in die Vrystaatse hooggeregshof. Foto: Charne van der Merwe
Maritz is verlede Vrydag (17/10) in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis nadat hy in Mei 2021 skuldig bevind is aan 16 aanklagte wat verband hou met die seksuele misbruik van minderjariges tussen 2007 en 2014 op Virginia, Odendaalsrus en in Welkom.
Met vonnisoplegging het regter Soma Naidoo gelas sy naam moet in die nasionale register vir seksuele oortreders opgeneem word en hom permanent verbied om met kinders te werk.
Naidoo het saamgestem met adv. Amanda Bester, staatsaanklaer, se argument die erns van sy misdade en die trauma wat sy slagoffers aangedoen is, regverdig ’n lewenslange vonnis.
‘Hy het sy gesagsposisie en finansiële invloed uitgebuit om kwesbare minderjariges te misbruik’
Bester het gesê hy het sy gesagsposisie en finansiële invloed uitgebuit om kwesbare minderjariges te misbruik, terwyl sy regsverteenwoordiger, adv. Coenie Pieterse, vir toegeeflikheid gepleit het, met verwysing na sy gesondheid en gemeenskapsbetrokkenheid.
Naidoo het egter hierdie argumente van die hand gewys en gesê sy gesondheid het hom nie verhinder om ’n normale lewe te lei nie.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.