On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Afrigter glo aangerand: Voormalige Griekwas-speler se saak uitgestel

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:53 Thu, 23 Oct 2025

Afrigter glo aangerand: Voormalige Griekwas-speler se saak uitgestel | News Article
Johnathan Francke. Foto Facebook/Johnathan Francke

’n Voormalige Griekwas-rugbyspeler en tans afrigter, wat daarvan beskuldig word dat hy sy hulpafrigter in ’n stryery aangerand het, moet oor ’n maand in die hof verskyn vir ’n voorverhoorkonferensie.

Joseph Molale, hulpafrigter van die Sol Plaatje-Universiteit (SPU) se eerste rugbyspan, het ’n aanrandingsklag ingedien teen Johnathan Francke, hoofafrigter, wat tussen 2013 en 2022 101 keer vir die Griekwas uitgedraf het. Die woordewisseling het na bewering op 19 Mei ten tyde van ’n spanoefening plaasgevind.

’n Meningsverskil het glo ontstaan oor of spelers aan o.21-streekproewe moes deelneem wat binnekort gehou sou word.

Volgens die polisie het die gestry in ’n fisieke konfrontasie ontaard. Francke het Molale glo in die struweling geslaan. Die voorval het skokgolwe deur die Noord-Kaapse rugbygemeenskap gestuur.

Joseph Molale net ná die aanranding. Foto verskaf

Die polisie het vroeër bevestig ’n aanrandingsaak is aanhangig gemaak.

Molale het beserings opgedoen en kort ná die voorval ’n CT-skandering ondergaan.

Die onderonsie was glo weens voortdurende spanning wat reeds van verlede jaar af kom. Molale beweer Francke het voorheen spelers opdrag gegee om nie aan sewestoernooie deel te neem nie, wat verwarring en wrywing oor Molale se afrigtingsverantwoordelikhede veroorsaak het.

‘Hy het gesê hy sal eerder die seuns glo as vir my … toe slaan hy my’

“Hy het vir die spelers gesê hulle hoef nie sewes te speel nie, en selfs gesê as hulle speel en seerkry, sal hy hulle nie kies nie. Ek het hom gekonfronteer. 

“Hy het dit ontken, en toe ek hom daaraan herinner, het hy gesê hy sal eerder die seuns glo as vir my … toe slaan hy my.”

Ondanks pogings om die saak deur die universiteitsbestuur te laat hanteer, het die meningsverskil tot in die huidige seisoen voortgeduur en uiteindelik tot die gewelddadige konfrontasie gelei, sê Molale.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.