On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Eindeksamen verloop vlot in Noordwes, sê LUR

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:34 Fri, 24 Oct 2025

Eindeksamen verloop vlot in Noordwes, sê LUR | News Article
Viola Motsumi, Noordwes se onderwys-LUR, het die Sekondêre Skool MpheBana op Koster Donderdag besoek waar die Engels- derde vraestel geskryf is. Foto: Facebook.

Die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen verloop vlot dwarsoor Noordwes en geen voorvalle is tot dusver aangemeld nie.

Donderdag (23/10) het Viola Motsumi, onderwys-LUR, die Sekondêre Skool MpheBana op Koster besoek waar 189 matrieks die Engels- derde vraestel geskryf het. Haar besoek was deel van deurlopende pogings om die vordering van die eksamens te monitor en leerders regoor die provinsie te motiveer.

Motsumi het haar tevredenheid uitgespreek oor hoe die eksamens in die eerste week verloop het. “Volgens my waarneming kan ek bevestig dat alle kandidate hulself betyds vir die eksamen aangemeld het,” het sy gesê.

Sy het met die skool se beheerliggaam vergader om strategieë te bespreek om akademiese prestasie te verbeter. MpheBana, wat in die derde kwartaal onderpresteer het, sal binnekort met ’n program begin om onderwysers sowel as leerders te help om leeragterstande uit te wis voor die laaste vraestelle geskryf word.

Viola Motsumi, onderwys-LUR, het die Sekondêre Skool MpheBana op Koster Donderdag besoek waar 189 matrieks die Engels- derde vraestel geskryf het. Foto: Facebook

Die program behels onder meer ’n sogenaamde “inkubasiekamp” wat die naweek begin. “Die ooreenkoms was dat alle kandidate aan die inkubasie deelneem, omdat ons glo hierdie proses sal onderwysers en leerders help om leemtes in hierdie skooljaar die hoof te bied,” sê Motsumi.

MpheBana is een van die provinsie se skole met ’n hoë inskrywingstal in wiskundige geletterdheid, aardrykskunde en rekeningkunde. Motsumi het die belangrikheid van samewerking tussen skole en ouers beklemtoon op die kamp, wat Sondag (26/10) begin.

“Die inkubasiekamp sal onderwysers die geleentheid gee om meer aandag aan die leerplan te bestee, terwyl ouers saam met die skool werk om ’n bevorderlike leeromgewing te skep. Ons bly verbind tot die ondersteuning van elke kandidaat en sal die eksamen fyn dophou tot die laaste vraestel geskryf is.”


Om akademiese ondersteuning verder te versterk, sal vakadviseurs gedurende die inkubasietydperk by die skool gestasioneer word. Hulle rol is om onderwysers by te staan met gerigte onderrig en te verseker dat leerders die nodige leiding ontvang om hul prestasie te verbeter – veral in kernvakke waar die uitslae steeds onder 80% is.

Vrydag skryf matrikulante hul Afrikaans- derde vraestel.

Op haar besoek het Motsumi ook tyd ingeruim om met leerders in MpheBana se laer grade te gesels. Sy het hulle aangemoedig en verwys na die krag van onderwys, die belangrikheid van daaglikse bywoning, en die waarde daarvan om groot te droom.

Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.