On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Olifante naby grootvoetlose Kgalagadi-oorgrenspark waargeneem

───   14:51 Fri, 24 Oct 2025

Olifante naby grootvoetlose Kgalagadi-oorgrenspark waargeneem | News Article
Olifante teen sononder in Botswana afgeneem. Foto: X/Our Botswana

Besoekers aan die Kgalagadi-oorgrenspark word gevra om op die uitkyk te wees vir olifante in dié park, die enigste groot nasionale park in die land waar daar geen van dié ikoniese diere voorkom nie.

Vir die eerste keer is ’n bevestigde waarneming van olifante onlangs naby die Zutshwa-gebied in Botswana se Kgalagadi-streek aangeteken, minder as 70 km van die oorgrenspark. Vier olifante is hier raakgesien.

Besoekers aan die Kgalagadi-oorgrenspark word versoek om waaksaam te wees en enige olifantwaarnemings met parkbeamptes te deel, sê JP Louw, woordvoerder van Sanparke. Volgens Botswana se departement van natuurlewe en nasionale parke, wat in vennootskap met Sanparke betrokke is by die bewaring van die oorgrenspark, is dié waarneming bevestig en word dit as betekenisvol beskou. 

Botswana is die land met die grootste olifantbevolking. Foto: X/Our Botswana

Dit is die naaste wat olifante in byna tien jaar aan die park gekom het. Die vorige geval was in 2015, toe ’n klein groepie olifante kortstondig die gebied betree het voordat hulle verder getrek het.

Hoewel die oop landskap van die Kalahari nie as tradisionele olifant-habitat beskou word nie, kan hierdie beweging dui op verskuiwende migrasiepatrone of ’n uitbreiding van die olifantverspreiding in Suid-Botswana, sê Louw. Volgens die World Population Review is Botswana die land in die wêreld met die grootste olifantbevolking. 

Die land word deur meer as 130 000 olifante bewoon, die meeste daarvan in die Okavango-delta en die Chobe-gebied in die noorde. Suid-Afrika is in die sesde plek, met net meer as 31 000 olifante.

Probleme met oorbevolking

Botswana het inderwaarheid probleme met ’n oorbevolking, en die land se regering het die omstrede besluit geneem om 400 jaglisensies vir olifante vir 2025 uit te reik, berig wildestofficial.com. Hierdie stap het die debat oor natuurbewaring, die konflik tussen mens en dier en die ekonomiese implikasies van trofeejag in die streek weer laat opvlam.

Intussen versoek Sanparke besoekers om foto’s en waarnemings van olifante in die Kgalagadi-oorgrenspark te deel met die eerste kampbeamptes wat hulle teëkom, of om dit te stuur aan die parkbestuurder, Frans van Rooyen, by frans.vanrooyen@sanparks.org. Die ligging waar die olifante waargeneem is, moet ook vermeld word.

Gaste word daaraan herinner om steeds die parkreëls streng na te kom, nie hul voertuie te verlaat nie, en nie die diere te nader wanneer hulle gesien word nie.

Kruger se naam bly

Dr. Dion George, minister van bosbou, visserye en die omgewing, bevestig daar is geen proses aan die gang om die naam van die Nasionale Krugerwildtuin te verander nie. 

’n Mosie hieroor deur die EFF, gesteun deur die MK en ANC in Mpumalanga, was bloot ’n simboliese gebaar sonder enige wetlike gesag. Die bevoegdheid lê uitsluitlik by die minister, en solank die departement onder die leierskap van die DA is, sal die naamverandering nie oorweeg word nie, sê George.

“Die Krugerwildtuin as wêreldbekende handelsmerk vorm die fondament van Suid-Afrika se florerende ekotoerisme-ekonomie en ondersteun duisende werksgeleenthede en bestaansmiddele. Om daardie handelsmerk vir politieke gewin te ondermyn, sal die burgers benadeel wat hierdie partye beweer om te verteenwoordig.” 

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus cvs/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.