Central SA
Hofsaak teen Ngwathe-munisipaliteit uitgestel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:30 Sat, 25 Oct 2025
’n Hofaansoek met betrekking tot ’n diensleweringsvonnis teen ’n Vrystaatse munisipaliteit is van die dringende hofrol verwyder.
Die saak sal nou later vanjaar aangehoor word om die voorsittende regter genoeg tyd te gee om die aantal dokumente in die dispuut te bestudeer. Die saak sloer sedert verlede jaar.
Dit vorm deel van AfriForum se voortgesette regstryd teen die Ngwathe-munisipaliteit. Vroeër vanjaar het die Bloemfonteinse hooggeregshof beslis die munisipaliteit het nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor inwoners van Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nagekom nie.
Regter J.P. Daffue het gelas die munisipale raad moet ontbind word en die Vrystaatse provinsiale regering moet onmiddellik ingryp.
Die munisipaliteit se daaropvolgende aansoek om verlof tot appèl is in Augustus van die hand gewys en hulle het toe na die appèlhof gegaan, sê Alta Pretorius, AfriForum se Mooirivier-distrikskoördineerder
Aansoek nie meer dringend
AfriForum het ’n dringende aansoek ingevolge art. 18(3) van die hooggeregshowewet gebring waarin versoek is dat Daffue se uitspraak toegepas word terwyl die appèlproses voortduur.
Hoewel die aansoek nie meer op ’n dringende basis aangehoor sal word nie verwag AfriForum se regspan dit sal later vanjaar weer op die hofrol verskyn. Indien suksesvol sal die aansoek verseker die gelasde provinsiale ingryping sal voortgaan ondanks die hangende appèl – ’n proses wat etlike jare kan duur.
Pretorius sê die besluit om die saak nie dringend aan te hoor nie is nie ’n oorwinning vir die munisipaliteit nie.
AfriForum het namens inwoners ingegryp toe die plaaslike én provinsiale regering versuim het om hul grondwetlike verpligtinge na te kom. Foto: AfriForum
“Die hof se benadering toon regter Sharon Chesiwe het hierdie saak as ernstig en verreikend genoeg beskou om deeglike oorweging te regverdig. Die munisipaliteit se poging om dit as ’n oorwinning voor te stel is misleidend en openbaar ’n misverstand van die regsproses.”
Sy sê AfriForum probeer nie om die munisipaliteit oor te neem nie, maar probeer om die Junie-uitspraak kragtens art. 18(3) af te dwing.
Dienslewering
Dit is steeds swak ten spyte van die munisipaliteit se openbare bewerings van die teendeel. “Inwoners ervaar steeds gereelde water- en kragonderbrekings en die munisipaliteit het nie die toerusting om kritieke instandhouding uit te voer nie. Byvoorbeeld tydens die voorbereidings vir die Parys Crater Street Mile hierdie naweek moes AfriForum ingryp en teer verskaf om slaggate te herstel omdat die munisipaliteit nie kon nie.”
Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê die vertragings is teleurstellend vir die gemeenskap. “Noodsaaklike dienste soos water en elektrisiteit bly onbetroubaar en daar is steeds geen kommunikasie of samewerking van die munisipaliteit nie.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

