On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Ashmund
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Gesoekte VSA-burger op Kanoneiland vasgetrek

───   10:12 Mon, 27 Oct 2025

Gesoekte VSA-burger op Kanoneiland vasgetrek | News Article
Die VSA-burger met sy inhegtenisneming Sondag. Foto verskaf

’n Gesoekte 41-jarige gaan binnekort aan die VSA uitgelewer word nadat hy Sondag (26/10) in ’n gesamentlike operasie tussen die plaaslike polisie en Interpol op ’n plaas in die omgewing van Kanoeneiland in hegtenis geneem is.

Die verdagte is gesoek in verband met verskeie misdade, insluitend ontvoering, luidens ’n verklaring deur die kantoor van genl.maj. Monica Sebildie, distrikskommissaris van ZF Mgcawu. Beamptes van Interpol het die polisie op Kanoeneiland genader met inligting oor die verdagte se moontlike teenwoordigheid in die gebied. 

’n Gesamentlike span bestaande uit beamptes van Kanoeneiland se polisie, Upington se grenspolisie, hoofwegpatrollie en Interpol het die verdagte opgespoor en in hegtenis geneem.

Sebili loof die samewerking tussen die plaaslike en internasionale wetstoepassingsagentskappe wat die doeltreffende optrede moontlik gemaak het. 

Die Clivia mirabilis. Skets: Sanbi

Intussen woed die stryd in veral die Noord-Kaap voort teen die stroping van skaars plantspesies, veral vetplante, waarvan sommige op die rand van uitwissing staan.

In ’n onlangse voorval het polisiebeamptes van Springbok ’n maand gelede twee buitelandse burgers (36 en 42) in hegtenis geneem met ’n vrag bedreigde plantspesies in hul besit.

Die twee is aangekeer nadat polisiebeamptes op nagskofpatrollie langs die R382-pad op hulle afgekom het waar hulle ’n wit Toyota Hilux-bakkie se bande vervang het. Die polisie het vasgestel die bakkie, met ’n kappie op, was gelaai met ’n groot hoeveelheid waardevolle bedreigde plantspesie. Die verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem, sê die NVG.

15 jaar tronkstraf

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die saak om speursers. Wynand van den Heever van Springbok se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies te nader by 060 963 6183, of bel Stop Misdaad by 08600 10111. Inligting kan ook via die My SAPS-app gedeel word. Alle inligting word vertroulik hanteer.

In Julie het die streekhof op Calvinia vier buitelanders gevonnis tot 15 jaar direkte tronkstraf elk vir die stroping van Clivia mirabilis-plante, ’n skaars en kritiek bedreigde spesie wat slegs in die Noord- en Wes-Kaap voorkom. 

Plante van R30 miljoen

Die beskuldigdes – Mark Daddy (43) van die Demokratiese Republiek van die Kongo, en Raphael Mbhashu (25), Simbarashe Charanelura (33) en Elton Ngwanati (34), almal van Zimbabwe – is skuldig bevind op agt aanklagte, insluitend oortredings van omgewings- en immigrasiewetgewing.

Die mans is op 20 April 2024 in die Oorlogskloof-natuurreservaat betrap met 303 plante ter waarde van tot R30 miljoen. ’n Gesamentlike operasie tussen veldwagters en die polisie het tot hul inhegtenisneming gelei. 

Die hof het die erns van die misdaad beklemtoon en die hoop uitgespreek die vonnis sal as afskrikmiddel dien om Suid-Afrika se groen erfenis te help beskerm.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.