On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Onderwysassistente se kontrakte eindig vroeg in Noordwes

───   REFILWE BEKANE 10:00 Tue, 28 Oct 2025

Onderwysassistente se kontrakte eindig vroeg in Noordwes | News Article
LUR Viola Motsumi bedank al die assistente vir hul beduidende impak op skole. Foto: Departement van onderwys, Noordwes

Noordwes se onderwysdepartement bevestig die kontrakte vir sy Basieseonderwys-indiensnemingsprojek (BOII)-assistente eindig einde November, ’n maand vroeër as verwag.

Dit beteken die laaste werksdag vir die onderwys- en algemene assistente is Vydag 28 November. Die BOII het landwyd in Junie begin, maar Noordwes het aansienlike probleme tydens die werwingsfase ondervind, wat tot ’n vertraging in die aanstellings gelei het, sê die departement.

Hierdie uitdagings het die provinsie gedwing om die aanstellings uit te stel tot begin Julie, ’n maand ná die program se beoogde aanvang. 

“Onder die werwingsuitdagings wat ervaar is, was die uitsluiting van die beheerliggame in die samestelling van onderhoudspanele, dat nie voldoen is aan die vereiste van ’n radius (5 km en 30 km), en die verkoop van die BOII-poste,” sê die departement.

Onderwysassistente in Noordwes se dienstermyn eindig nou reeds einde November, ’n maand vroeër as beplan. Foto: Freepik

Die departement van basiese onderwys het ’n verlenging van ’n maand vir die program aangevra van die Werkloosheidversekeringsfonds, wat die program finansier. 

Hierdie verlenging sou die Noordwes-assistente in staat stel om die volle termyn te dien wat oorspronklik vir die nasionale program bedoel was. Die departement het egter die provinsie in kennis gestel dat die finansier die versoek nog nie goedgekeur het nie.

“Ek is saam met Noordwes se departement van onderwys uiters teleurgesteld dat die finansier van die BOII-program nie ons versoek goedgekeur het om die program met een maand te verleng nie,” sê Viola Motsumi, LUR vir onderwys.

‘Die departement het geen beheer oor die finansieringstydlyn nie, aangesien die program geheel en al afhanklik is van die eksterne finansier’

Weens hierdie gebrek aan goedkeuring het die departement voortgegaan om die betrokke assistente in kennis te stel van die program se naderende einde. 

Motsumi benadruk die departement het geen beheer oor die finansieringstydlyn nie, aangesien die program geheel en al afhanklik is van die eksterne finansier, wat die maandelikse betalings direk bestuur.

Ondanks die kort dienstermyn bedank Motsumi al die assistente vir hul beduidende impak op skole, en sê hul bydraes was van onskatbare waarde vir onderwysers, leerders en departementele personeel. Die departement vra die personeellede wat geraak word, moet hierdie kritieke inligting met hul kollegas deel.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Refilwe Bekane cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.